Translate

Monday 29 July 2013

Drome, koue en leemtes . . . koue leemtes en salfies . . .

Dis koud vandag, my binneste willie saamwerk nie, en ek loop lang paaie in my kop, ek weet ek is soos in permanent op vakansie maar dit kan ook voel dat ek 'n wegbreek nodig het en ek weet my man het daai wegbreek meer nodig as ek en ek dagdroom . . . 

Ek dagdroom oor strande en die bos, Paternoster, die Karoo en die Bosveld en Namibia, Swakopmund en Tsumeb waas my mense is . . .  en ek droom die koue weg, want dis somer in my kop, iemand moet net die yskas toemaak.

Ek onthou laas winter toe Klein Mienke so lank in NICU was, dit was nie lekker nie, en nou hierdie winter die leemte van ouma se Lulubaba wie ons moes sien weggaan voor sy by ons was . .  en ek vra dat volgende winter asseblief beter moet wees, pyn en koue loop nie mooi saam nie, dis uiters kak! 

More kom klein Lika, my suster Marie se kleinkind, en ek is so bly, ek kannie wag om haar te ontmoet nie en ek probeer die lewe vier, ja dit gaan seker rofies wat probeer vorm, weer afruk maar ons moet aan ons moet vorentoe, maskara en eyeliner hou nou nie eintlik lank op die gesig nie maar ons sal weer regkom. Ons moet net. Ons het so gedroom om saam ouma van nuwe ou dogtertjies te wees en nou is daar net enetjie. . . Die bly saam met julle is lekker lig op die swaar knop in ons binnestes. 

Droom . . . Ja ons kan droom maar soms werk dit net nie so uit nie . . . 

Nou droom ek van ver plekke, dis nie omdat ek wil weghol nie, dis omdat ek salfies soek, salfies om hierdie seer bietjie te streel. Paternoster waar ek nog nooit was nie maar die plek het iets wat ek net op prentjies kan lees, daai sout see en strand, visserskuitjies en die song Skipskop kom in my kop op en ek onthou ek het hom al soveel keer vir myself gesing, veral toe ons na die anderkant toe gegaan het, en dit was goed, dit is goed daar, die vrede en liefde van Afrika. 

Die bosveld bos, Mabalingwe le om die draai en ek voel al daai bos en die diere en die soort van vryheid om te ry en net by 'n watergat te sit en jou gedagtes te laat gaan, ek en die liefde van my lewe, ons deel hierdie dinge asof ons een mens is, dit maak ons sterk en trek ons vas teenmekaar.

Namibia, Suidwes my land, daar waar die mooi myle en myle strek, van grasvelde tot woestyn en die see, die mooi die skoon van 'n Hoer Hand, daai salfies doen weer iets anders wat jy nerens anders kry nie. Die bakkie se wiele op die teer wat verruil word vir sout pad en later duinesand, die seewind wat trane droogwaai en stywe strepe oor die wange los, iets wat die sout van trane met die soet van die lewe kan vervang . . .

So kan ek aangaan van die een gunsteling na die ander, elkeen doen iets anders vir die siel, die leemte loop saam en kan nie so volgemaak word nie maar die salfies sal weer die ou bekertjie volmaak. 

Dan iewers in die agterkop is daar 'n gedagte van nuwe lewe wat ek nog nie met julle kan deel nie, eendag sal ek wel, nie lank van nou af nie . . . Hou maar dop!

As ek julle verveel met my gevoelens, dink net daaraan, dis net myne, ek weet nie hoe ander mense dit verwerk nie maar ek doen dit al jare lank deur te skryf, en dit werk vir my, dankie vir die wit van die papier en die ink in my pen, deesdae is dit die keyboard en die skerm maar dit werk nogsteeds. 

Daar was mense wie ek so probeer wegskryf het uit my gedagtes maar die moere kom roer nog soms hier in my kop en ek dink, julle sou in die verlede kon bly as julle nie nogsteeds die vir wie ek die liefste is kom omkrap het nie, so bly maar daar in julle eie ou bubbletjies en moet asseblief nie daar uitklom nie, hulle kon tot hier sonder julle klaarkom, so bly weg al is dit die wegbly en stilbly wat die roering veroorsaak, julle kopuitsteek sal dit net weer erger maak . . . almal sal nie die stukkie verstaan nie . . . Dalk skryf ek tog eendag nog 'n laaste stukkie hieroor, maar vir nou is dit nie my begeerte nie. 

Vir nou konsentreer ek op die toekoms en ek weet dit sal beter gaan en ek fokus op dit.

Hou julleself warm vandag, en die wie aan die bokant van die ewenaar is waar dit lekker somer is, dink aan my koue voete en gaan staan bietjie in die son en stuur daai lekker warmte die kant toe . . . 

P koue groete van die kant af, en droom maar dit word soms waar . . . 

Mwah 

No comments:

Post a Comment