Translate

Thursday 18 July 2013

Die Roudiens dag . . .

My maters vandag het ek al my ou kraggies nodig. Dis ons Leandritjie se roudiens, ouma se Lulubaba wie by Jesus is en nie by ons nie, ons moet groet sonder dat ons haar geken het, sondar dat ons haar kon troetel. Teen die bors kon vasdruk en soen. Kon net liefhe, dis al. 
Ons kan vandag na haar gaan kyk, die kinders wil he ons moet, dis blykbaar goed vir die rou proses, ouma krimp ineen net aan die blote gedagte. Of ek dit gaan maak en die moed gaan he om daar in te stap weet ek nog nie. Sal sien as ek voor daai deur te lande kom. . . 
Hoe beskryf ek vir julle die seer die teleurstelling en die gewonder oor wat alles weet ek nie. 
Jy kry jou tye, die knop stoot hier op van die maag af keel toe en dis die hart wat seer is. Die ogies gooi water sonder waarskuwing . . . maar deur die ding sal ons beur . . . vorentoe al is dit opdraende en die pad lank en swaar, Jesus sal nie net neem nie, hy sal sorg ook. 
Dis nou menslik om op hier die stadium te begin afdraaipaadjies soek . . . ons is net nietige sondige wesens wie ons bes probeer . . . 
Die week was op en af, die kant toe daai kant toe en elke keer het ons daar by die kinders opgeeindig. Stap maar in, help met klein Mienke, bad haar, troetel haar, speel en lag so deur die trane en die seer vir al haar woordjies en komiese goedjies wat sy doen, want sy verstaan nie die hartseer grootmense nie, ons kan nie in hopies gaan sit en haar afskeep nie, ons klein Mienke wie ook 'n wonderwerkie op haar eie is wie ons almal bymekaar en aan die gang hou, is nou ons afleiding, die een wie almal regop hou, sy is ook van Jesus af, Hy het haar vir ons gegee en Hy het met haar operasies ons gebede verhoor, hoe kan ons nou kopverloor oor die ding met haar sussie wie net 13 maande later deur Jesus teruggevat is? 
So probeer ek die dinge verstaan en uitredineer . . . sonder kwaad word en die hoekoms my versmoor.

Dink vandag aan die hartseer maters, maar tel eers die seeninge . . . die seeninge is meer as die bitter . . . ons vra vir bietjie soet om die bitter pil te kan sluk, of dit gaan kom weet ek nie, die berg moet ons vandag oor . . . ons ken nie die pad nie maar moet vorentoe. 

Daai ou bekertjie sal weer oorloop, die pieringtjie sal weer vol lekker wees in plaas van trane. . .

Dankie vir julle gebede en boodskappe van bemoediging, julle dra ons.

Tot volgende keer, van die onderkant van die ewenaar af . . .

Liefde 

Iretha

No comments:

Post a Comment