Translate

Saturday 29 June 2013

Klap maar hande en cheer as jy moet, dis lekker om mens te wees . . .


Ek hou daarvan om anders te wees, ek moedig mense aan om anders te wees, en dan kry jy mense wie anders wil wees maar op 'n ander manier: (of nie weet hoe nie en dan vir my probeer vertel hoe ek dit moet doen sonder die regte begrip waar ek vandaan kom)  

Hoeveel maniere is daar nou waarin mens anders kan wees? 

Ek dink die volgende: 

Anders deur bloot deur anders wees dinge anders te ervaar,
Anders wees deur dinge anders as die norm te doen,
Anders wees deur weg van die mode trend aan te trek,
Anders wees om nuwe dinge met swier te doen of te dra,
Anders wees deur in jouself te glo en deur selfvertroue 'n 'statement' te maak,  

En dan 

Anders te wees deur stroom op te rebelleer!  

Die laasgenoemde is vir my verkeerd. 

En dis net my opinie ek se nie dit moet jou opinie wees nie.  

As jy weier om byvoorbeeld iets te doen wat bloot goeie maniere is want jy hou nie daarvan om te doen wat op daai stadium van jou verwag word nie, is rebelleer. Veronderstel jy sit en rugby kyk en hulle druk 'n drie en die mense spring soos een op en juig en jy weier bloot om mee te maak omdat jy dink dit word van jou verwag, (wtf) roep ek dit rebelleer.  

Hoekom wil jy op daai manier anders wees? (of kan ek dit moeilik wees noem? Is daar 'n ander woor wat ek mis?) 

Ek probeer anders wees om 'n boodskap aan my lesers oor te dra, om hulle dieselfde ondervindings as wat ek ondervind te laat ervaar en hulle kan self besluit of hulle dit ook geniet of liewer met die stroom voort wil beweeg. Die stroom is nie verkeerd nie, soms geniet ek die 'go with the flow' net so baie.  

Maar as iemand my oor en oor vertel hulle is anders want hulle is boekgeleerd en het brein selle wat hulle maak verstaan dat dit stupid is om op 'n manier te reageer as wat die samelewing van ons verwag (soos bv. iets so eenvoudig as om te cheer as iemand anders 'n mylpaal behaal het) het ek 'n probleem daarmee. Dan begin dink ek, mens as jy met jou neus in 'n boek gesit het vir 20 jaar en die lewe verby jou gestap het, en nou ewe skielik weet jy nie die verskil tussen goeie maniere en bloot ongeskik wees (of die lewe te geniet) nie voel ek jammer vir jou.  

Ek kan op my getuig skrif skryf: Educated by life, loved and appreciated by my family and friends!  

Help my nie veel om te sê my IK is bo gemiddeld en ek kan nie vir myself dink nie.  

Ek het keuses in my lewe gehad en ek het die lewe gekies, ja ek het al op pap en tik gelewe maar ek is gelukkig, ek Glo en ek voel gesëend, en die mense wie saak maak is lief vir my. Ek weet ook van mense met grade wie slegter af is as ek, unjinx.

Ek gee met 'n oop hand maar as jy skatryk is en te ingat is om 'n half dosyn eiers te koop omdat jy reken dit moet van iemand anders af kom, wil ek my pienk rok se soom bekak.  Dan gee ek met 'n toe hand. 

Ek probeer 'n boodskap bring en ek weet nie of hy hierbo deurkom nie, so ek sal in een paragraaf sê wat ek wil sê; 

Maak nie saak, wie jy is, en wat jy is nie, moenie jouself op die "eie ek troontjie" sit en neerkyk op ander en hulle kritiseer nie . . . sien jou medemens as jou gelyke, dis tog wat die woord beteken, m-e-d-e-m-e-n-s. EN as jy nie die commonsense het om ander te gun wat en wie hulle is nie, gaan druk jou kop terug waar jy hom nou net uitgetrek het en los ons wie tevrede is met wie ons is, en waar ons in ons lewens is, in vrede. Sela.   

Julle wonder seker waar die vandag als vandaan kom, ek sal julle net dit sê, ek was 'n die 'nabye' verlede erg geirreteerd met so iemand en wou dit net vandag uit my sisteem uit kry. Dankie vir die skerm wie geduldig luister soos ek tik en vir julle wie gaan lees en dalk gaan verstaan waar ek vandaan kom.  

Ek hou nie daarvan om geirreteerd te wees nie, dis 'n swakheid van my, ek is so gemaak en so gelaat staan, maar dis nou oor en uit.  

Lekker naweek, en as iets jou blare roer, gee uiting daaraan, raak ontslae van die emosie/oorsaak, die lewe is 'n lied en sing hom hardop!

 

Luv ya all!

 

Iretha

Friday 28 June 2013

Vrydag blues . . .

Dis Vrydag, almal is happy dis naweek!

Nou dink ek weer terug aan my Vrydag fobie waarmee ek lank al sukkel, of gesukkel het.

Jy weet as 'n ou koshuis kind kry jy daai Sondag blues want jy moet terug koshuis toe en Vrydag was jou beste dag.

En as jy werk en 'n lekker naweek gehad het kry jy daai selle gevoel op 'n Sondag middag.

Nou ek het vir lank daai blues op 'n Vrydag gekry!

Ek dink die rede vir my weird gedrag was dat ek vir lank alleen by die huis moes bly, toe Danie begin travel het, heel week werk ek en dan Vrydag middag as almal in 'n party mood is en huistoe gaan was ek alleen. Geen wonder die gevoel is oor nie.

Kyk ek het als probeer om van daai gevoel ontslae te raak maar as ek op 'n Vrydag by die huis ingestap het was hy daar, blou blou blou! Ek hou van alleen wees en ek hou baie van 'me' time maar Vrydag het my altyd gewen!

Nou wil ek vir die wynig min mense wie Vrydag blues het sê:
Dis ok, maak 'n lys van lekker doen dinge en doen dit op daai dag, maak spoed bymekaar en hardloop daai Vrydag en skouer hom grond toe, maak dit jou dag en basta met als. En as jy die blues gewen het, moenie dat Sondag of Maandag daai gevoel oorvat nie. Hiehiehie ons is almal mense en al dink jy jy is weird daaroor, jy is nie hoor want ek dink ek is pretty normaal ;-)

Lekker naweek outjies, maak 'n vuutjie en hou julle self warm, sit maar 'n skop dingetjie in die hot chocolate niemand sal weet nie :-)

Ek stuur lekker weer saam met my post.

Iretha



Markdag


 Ilesa mark

 

Vandag is dit bietjie tyd om mark toe te gaan en die drywer kom laai ons eers 10 uur op want dit was sanitation vir die besighede. Dit beteken dat hulle tussen 7 en 10 hulle winkels moet skoonmaak. Die polisie en weermag hou hulle dop. (Dit help nie veel nie) 

So oppad BBM ek my dogter en sê vir haar ons gaan mark toe, vir ingeval sy my soek en ek nie die foon die hele tyd dophou nie. Sy sê, oe lekker, ek is al lankal lus om Irene Mark toe te gaan. Ek lag my pap so in die binneste, my arme kind, as jy op die mark moet kom dink ek bad jy in dettol na die tyd. Daar is geen maar geen ooreenkoms nie.

 
(Ek probeer nog uitvind wat se dier dit eintlik was, lys soos 'n kat of 'n ding en die "parte" word gebruik vir black magic!)

Nou dit was sanitation maar toe ons uit die kar uit klim pong als. Ons is op die hoek waar hulle vars vleis en vis verkoop, en die was die eerste ding waarin ek vasgekyk het!  Groen gesiggie, vlak asemhaal en daar gaat ons. 

So jy nou dink om watter duistere rede enige regdenkende mens dan nou daarnatoe wil gaan, ek wonder ook!  

Maar dis 'n avontuur en Iretha love avonture.  

Ek koop voedsel kleursel vir die badsout wat ek maak en mooi materiaal vir 'n hempie vir Danie en vir 'n bont broek vir my. Ons trek soms snaaks aan ja (lmga) Ons koop 'n sak vol koekies en bederf al die kindertjies wie so op die mark grootword met koekies sover ons loop. Hulle oyinbo en Shiela Dudu terug, dudu beteken swart in die Yoruba dialek wat hulle hier praat en almal lag te lekker, die mense hier het 'n sin vir humor en ons voel veilig en gemaklik tussen hulle. Hulle onthou jou ook en kom knoop geselsies aan. Die kindertjies het maar 'n onbeskryflike aaklige lewe en is tevrede daarmee. Van die ma's stop sommer die kindertjies in jou hande en verdwyn. Op 'n slag vandag het ek gedink ek gaan een moet huistoe vat want die ma was weg. Gelukkig kom sy toe terug, sjoe!

 


Ek koop 'n groot lepel vir R25, dit gaan awsome lyk by die braai teen die muur. Die een man kom na my toe en sê vir my ek kan nie met daai lepel eet nie dis te groot, duhh, ek's wit nie dom nie! Ek sê toe maar vir hom die lepel is om my man mee te slaan en ek eet eintlik baie en het so 'n groot lepel nodig. Ek kan julle nie vertel hoe die vrouens gelag het nie.

 

(Dis 'n slaai bak op die tafel, die lepel laat dit lys soos 'n puddingbakkie!)

By 'n ander stalletjie koop ek spons krullers, 2 pakke vir R50. By die krale winkeltjie koop ons goue draad waarmee ons hekel en juwele maak en ander interessante goed wat ek nog nie in SA gesien het nie vir R10 en R5, als is baie baie goedkoop. Ook maar net omdat die een steward saam met ons is anders looi hulle jou met skin tax. Skin tax is wat ons dit noem as hulle die expats over charge. Greenpeppers is so groot soos golfballetjies maar dis greenpeppers jay! Ander 'winkeltjie' verkoop serpies met roos knippies vir R10 een, ek koop 3, wonder of ek dit gaan dra.

 


Ek begin sweet want die humidity is bietjie hoog maar dis nie vandag so warm gewees nie.  My broek maak sulke smiles agter by die knië en boude, die sweet loop in my oë, ai die vreugde van Afrika.

 
(Ons shopping word vir ons kar toe gedra)

Ek's terug by die huis en gaan bad met daai lekker badsout wat ek maak maar die mark reuk sit nog in my neus, ek spuit parfuum, hoop dit help.
 
Ons is bevoorreg om hierdie dinge te kan vertel en te kan ervaar. Ek ken mense wie nog nooit uit hulle geboorte dorp was nie. 

Volgende keer as jy Irene of Boksburg vlooimark toe gaan dink aan my ;-) Een van die dae kom loop ek weer my loop op SA bodem, die tyd kom nader en ek weet nie of ek opgewonde is of nie, ek is redelik happy met my omstandighede (dis daai bekertjie wat so vol loop elke dag)! 

Lekker dag maters! Slurp lank en hard jy mag want dis jou piering en jou kasteel!

Mwah 

Iretha

Wednesday 26 June 2013

Lord Egerton se Kasteel, my storie . . .


Ek dink weer vandag aan ons trippie Kenya toe en ek dog ek moet julle vertel van die Kasteel wat ons daar Naby Nakuru besoek het.

 

Lord Egerton's Castle:

 


Dis 'n imposante plek hoor. As jy by die hekke inkom sien jy die lieflike groen grasperke en dan hierdie 'kasteel' met 53 kamers. Ek was bietjie buffled aan die begin maar het toe agtergekom dis nie 53 slaapkamers nie maar 53 vertrekke.

 


Nou die storie loop om en by so: 

Lord Egerton was in 1874 gebore later jare (1927)na Kenya verhuis waar hy toe grond gekoop het. Daar het hy vir hom 'n grasdak huis gebou met 6 kamers (weetnie of dit nou weer al die vertrekke insluit nie) en toe sy geliefde/verloofde van Britse oorprong genooi om vir hom te kom kuier.

 


Die dame wie se naam nooi ooit erens genoem is nie was toe baie disgusted met die huis en het vir hom gesê sy gaan nie in 'n agterlike klei huis bly nie, dit lyk soos 'n hoenderhok en 'n honde kennel en boos boos is die girl toe daar weg, die arme Lord se hart was aan skerwe.  

Girlfriend kom toe by die huis aan en trou sommer met 'n ander man. 

Die gebroke Lord besluit toe om 'n kasteel presies soos die een waaraan sy gewoond was te bou om die jonge dame terug te wen. Dit was in 1938. 

100 Rooi Indiane begin te bou toe aan die kasteel, in 1954 is die plek toe klaar en die Lord trek in.  

Daar is 'n ballroom en daar is kamers badkamers, modern vir daai tyd hoor, tot 'n donker kamer want hy was 'n karige fotograaf. Kluise en kombuis en store en als.

 


Die was blykbaar gemeubileer met die beste van die bestes. Goue eetgery en hy het als met 'n yster hand regeer.  

So, toe als nou reg was nooi hy weer die dame om te kom kyk maar sy wo niks weet nie. Die man was moerig. Hulle reel toe vir hom 'n swart Amerikaanse vrou en hy was seker maar opgewonde want hy wou 'n erfgenaam hê, maar omdat hy so vol nukke was doen hy 'n background check op die girl en kom agter sy het 'n man en 2 kinders in Australia! Die vrou was blykbaar net 2 ure daar toe is sy weer fort!


 (Sorry, ek kon nie help om in die kas te klim nie!)
 
Nou was die Lord baie moerig en het al sy hoop op einige liefde die aftog geblaas en hy verbied toe enige vrou om ooit op die kasteel se gronde te kom. Mans wie hom besoek het se vrouens moes 6km van die kasteel af wag.

 


Maar soos ons almal eendag maar moet, sterf die man toe op 30 January 1958. Stoksielalleen net met sy 16 servants en 25 dokters by hom, niemand kon hom gered het nie. Geen erfgenaam nie en die meubels en fancy goed word teruggeskeep na sy familie oor die water.

Dis 'n sad love story met 'n sad ending. Die ou was blykbaar so vol stront en het als stiptelik en rigied met 'n ysterhand regeer. Hy het darm in die tyd 'n kolledge gestig vir expat kinders wat vandag nog bestaan.

Vrouens kom en gaan nou by die kasteel en paartjies trou op die gronde. Die plek staan leeg met net 'n gebreekte orrel en 'n ou bed waarop hy blykbaar dood is.

Een van sy bediendes, Robert wie al by die tagtig is vat nou mense vir toere deur die kateel. Hy loop en lyk soos 'n spook. Ek het ook die spook in die een kaggel afgeneem ;-)
 

Nou kan jy maar dink wat jy wil, die arme man het 4 jaar in sy kasteel gebly voor hy dood is, stoksiel alleen.
En om die een of ander rede voel ek nie eintlik jammer vir hom nie . . .

Mensies ons kan uit die Lord Egerton se storie leer dat – al besit jy 'n kasteel, en jy is 'n verbitterde mens, gaan jy nêrens kom nie. Los daai klein jakkalsies, moenie hulle in 'n bondel vasmaak en deur jou lande (lewe) jaag nie, beweeg aan na 'n teleurstelling . . . wroeging en haat en verbittering gaan jou nêrens bring nie.

Vergewe die wat jou seergemaak het en jy sal bevry wees en weer beloon word met liefde. Die heelal werk so.

Maak julle bekertjies vol deur seëninge te tel en drink uit daai pieringkie uit, en verander jou eenvoudige woningkie in jou eie kasteel van geluk.

Mwah

Iretha

Broken language


Golf is mos nou die in ding hier . . . 

So voor ons na die anderkant toe gekom het, het ek gehoor van die vrouens wie so lekker golf speel hier. En ek het mos lankal lus gehad om die ding aan te leer maar nooit die geleenthied gehad nie. 

So 'n jaar of wat terug gaan ons almal Uyo toe vir die naweek (al die expats). Bly in die LeMeriddian Hotel en dis mooi en dis lekker. En almal trek hulle golf kleertjies aan en gaan slaan af net nadat ons gearriveer het die middag.
 
 

Ek en Danie, gewapen met kameras verken die hotel en omgewing en neem mooi fotos. Ons kry later die klomp op die golfbaan en voel so 'n klein bietjie uit want ons speel dan nou nie die game nie.
 
 
 
 
Danie gaan lewer toe maar water af vir die ouens wie speel . . .

 

Wel so kom dit dan toe dat ons die Saterdag more begin met golf lesse by die 'Pro'. 

Ek het nie golf klere nie en met die enigste ding wat ons gekoop het, teen 'n plaas se prys by die 'Pro Shop'  wat golfers dra, was 'n handskoen elk. Die 'pro' ('n Nigerian) maak ons touwys. Staan met die voete so, buig die knieë so, boude uit, arm gelock, vingers ingehaak, stok so, clubface toe, kop af . . . en so gaan dit aan. Sweep the grass. . . sweep the grass . . .  sweet in die oë . . . en daar mik ek vir daai bal en ek moer hom so mis ek draai daai stok soos 'n wafferse miekie muis amper reg rondom myself.

No no no not like that, not so hard. En ek try weer, en die slag tref ek daai balletjie en die 'pro' sê 'goosho' goosho'. Ek kyk verward na Danie en hy herhaal 'good shot'. Oooo nou sien ek 'goosho' is good shot en ek voel trots op myself. 50 balle later en direction direction goosho goosho eye on the ball eye on the ball, is ons vol bravade terug hotel toe. Sjoe, eerste golf les was amazing. (Net pokken warm) 

Doe volgende more met die wakker word slag is al die spiere seer! Ons kyk mekaar aan, nie geweet ons het oral spiere waar dit seer is nie.

Maar seer of nie vanmore is dit toe nou weer sulke tyd en na ontbyt meld ons aan en die 2 de les het minder gooshos gehad en meer directions en head down eye on the ball as die eerste les.

Maar ons is terug op die vliegtuig en huistoe. Die volgende trippie Lagos toe is ons in Game, en daar word stokke gekoop. So begin ons golf spelery toe. Danie is baie beter as ek want ek geniet dit nie so baie soos hy nie. Dis net dood eenvoudig te warm op die golfbaan as wat vir my gemaklik is. Die goggos vreet ons en ek speel maar, meer moer en soek, blykbaar soek ek nog die 'hang of it'! Whatever. Ek speel golf, ek het skoene, 2 de handse Game Dunlop Specials en ons praat nie oor Danie se stelletjie nie ;-)  

Nou wat ek eintlik wil vertel is die uitspraak van die locals se woorde en wat hulle broken language noem. 

Hier is 'n paar. 

A drop - One-way Taxi

 Black Shirt - Policeman

 Chop - To eat (in my boek is dit om af te kap)

 Close - Stop work (dis nou huistoe gaan tyd)

 Dash - Tip or bribe (hier is baie dashing in die land)

 Disting - This thing

 Done come - Has come (kla gekom?)

 Ease yourself - Go to the toilet

 Go slow - Traffic jam (hulle spreek dit uit go sho)

 Hello - I can't hear you

How now - How are you (hoe nou?)

 How body - How are you feeling (I'm hot LOL)

 I dey come - I'll be back (huh)

 Make I come - Should I come

 More grease to your elbows - may God continue to bless you (werk harder by ons?)

 Move front small - Go forward al little

 Na Wetin - What is it

 Na wetin happen - What happened

 No horning - Don't blow car horn

 Now, now - immediately (nou-nou by ons is nou-nou)

 On seat - in the office (kan die toilet ook wees?)

 Oyinbo - White person

 Pieces - Nira notes

 Quenched - It has quit, also means dead or it's not working any more (lank nie daai een verstaan nie)

 Ruff - hard times

 Sistah or brodda - anybody from same village

 Small chop – snack

 Take leg - walk (nog 'n huh?)

 To get belle - to be pregnant

 Tossed - out of service (hiehiehie)

 Wahala – Trouble

No wahala – No problem

 Well done - everything's great

 Yellow fever - Traffic officer  

As jy nou verwarring wil saai sit so 'n paar van die boonstes in 'n paragraaf volgende keer as jy met 'n break vat. Lmga  

Nou as ek nou so uit my omgewing mag skryf . . .  

I dey come with more of distings from my sistahs and broddas that I done come to ruff with in displace they call Western Central Africa.

Well done, this oyinbo is going to take a leg and make a small chop
now now, ek's honger.

 

Please Walk Smartly! 

 

 
Iretha

Tuesday 25 June 2013

Vandag brand my kersie laag . . .


 

Ek wil in klip ini bos gooi!  Kort en kragtig.
 

Ek staan eendag in die Spar waar ons in SA bly en die girl by die til sê vir my die vrou wie voor my was haar laat haar aan haar stiefma dink.
 

Ek vra vir haar of dit goeie of slegte herinneringe is.
 

Sy sê vir my:
 

"Tannie, sy was nie sleg nie, net kwaai, en nou dat ek ouer is besef ek dat daar nie stief ma's is nie, ons kinders het haar stief gemaak. . ." "Ons wou haar nooit aanvaar nie en het haar altyd uitgesluit en die lewe baie moeilik gemaak vir haar." Vandag is sy dood, my pa treur oor haar, hy was baie lief vir haar en ek weet nie hoe om jammer te sê nie."
 

Amen!
 

Ek is het kinders van ander help groot maak. Die hier bo, het die wêreld vir my beteken. 
 

Vandag het een van daai kinders weer drooggemaak en ek voel asof dit my eie is, ek bid die Here dat als sal uitwerk en hulle sal weet hoe lief ek vir hulle is. En die voorbeeld wat ons probeer stel sal volg. En dat hulle nie hulle pa afskeep omdat ek in sy lewe is nie, ek is lief vir hom en vir als wat daarmee saamkom. Ons sal saamstaan, maak nie saak wat nie.
 

Stief kinders wie hier lees, dink . . .  en stief ouers wie hier lees, ons kan 'n klub begin.
 

Ek drink uit my pieringkie, my sluk is dik, maar die lafinissie van Onse Vader help.
 

Love yu all!
 

Iretha

Monday 24 June 2013

Kriek kriek kriek


Almal van ons ken koringkriek se kind . . .

 


Nou ek in particular hou mos glad nie van die goed nie en ek onthou toe die storie en ek vra toestemming by die mense om dit vir julle te vertel en ek gebruik maar skuilname want dis appropriate, lol.  

So loop hy;  

Eendag nie so lank gelede nie kom Ta Meraai eendag van die werk af en raai wir wag vir haar in die kamer? Ja, koringkriek se kind, maar dis 'n bielie van 'n kriek en Meraai, ook maar skrikkerig vir die ding vang so 'n hand vol toiletpaier, en bekruip vir kriek se kind en vang hom mooi met die papier. Nou's kriek vasgekeer en wikkel rond in daai bondel supersagte 2 ply met die hondjies op en Meraai, grillerig vir die ding, gooi hom in die toilet en trek die ketting. Mission accomplished, en Meraai gaan aan met haar namiddag.
 
 

So kom Oom Gatiep by die huis en uit ouder gewoonte kuier die tweetjies bietjie in die kamer om die dag se stories te deel en dis so 'n paar minute waar die kinders nie pla nie en hulle bietjie opvang tyd het. Dis nou wanneer Oom sy werksklere uittrek en bietjie verligting gaan soek op die troon. Ant Meraai sit dan sommer daar op die bad se rand by hom en dan gesels hulle kopstukke.
 
 

 Die Oom sit toe so en gesels toe hy die volgende oomblik daai pieringogie sindroom ontwikkel en met stywe oë vir Ta Meraai aanstaar so ini middel van die sin, en hy sê, "Meraai something just grab my balls"
 
 

Ta Meraai vra, "waarvan praat jy Gatiep?" Maar die oom se oë bly so staan en sy kon  sien hy dink nou ondertoe en die volgende oomblik registreer daai woorde in sy eie brein en die oom vlieg op van daai troon af! Broek oppie voete pikkewyn hy in die kamer al in die rondte want "something grabbed his balls en daai something is holding on"  
En hy dans die pikkewyn dans so met die broek om die voete en skree vir Ta Meraai om te help.
 
 
 
Nou as julle vir Ta Meraai ken sal julle weet, sy onthou die kriek en sy sien die oom die pikkewyn dans dans en sy sien die kriek aan die juwele hang en die oom probeer die kriek af klap so in die dans en terselfde tyd is hy bang hy klap te hard en klap die juwele raak en Ta Meraai gly so stadig van die bad se rand af en lê lam gelag op die badkamer vloer.  Nou skree die oom eers en Ta Meraai kom tot verhaal, bondel van daai sagte 2 ply en sy bekruip die kriek op die juwele maar die oom kry nie die pikkewyn dans gestop nie en met groot gesukkel en gemik kry die tante die kriek weer in haar greep, haal hom van die juwele af en gooi hom die keer deur die venster.

 


Nou onthou die oom was laas besig met iets maar hy het nou vergeet wat dit was, en Ta Meraai ook maar nog slap van die lag, en mag nou ook nie eintlik lag nie, sien die saak van 'n ander kant af. 

Kriek gaan explore in die huis. Hy word skielik in 'n bondel papier vasgedruk en toe moes hy swem, maar siende dat kriek 'n bielie van 'n kriek is swem hy weer na die lig toe. Nou is die dam se walle glad en hy kan nie uitkom nie. Maar van bo af kom daar toe redding. Die oom se juwele. Kriek gebruik sy laaste kraggies en spring vir die redding en kry dit beet, klou vir lewe en dood. En die redding doen die pikkewyn dans met hom en nog 'n bondel papier . . .  

Nou as jy nog lees en die trane klaar uit jou oë uit gevee het . . .


 Die oom het die tannie die dood voor die oë gesweer as sy sie storie ooit oorvertel . . .

Nou ja, Ta Meraai lewe nog, na die oorvertel, en ek het toestemming om die oom se storie of sal ek sê die kriek se storie oor te vertel. 

Kyk maar mooi voor julle gaan sit . . . hie hie hie . . . 

Lekker vol pieringkie dag vir julle.

 

Iretha   

Tuff maar nie so tuff nie


Ek het die naweek ou stories gehoor van vroeër jare in Afrika. 

Die oom vertel ons jare terug in Tanzania het hulle geen elektrisiteit of lopende water in die huise gehad nie, hulle het als self ingesit, die Tannie vertel sy het buite op 'n oop vuur gekook, van ontbyt tot aandete, koek gebak in 'n swart pot en als. Miershoop uithehol om brood te bak. Nou dis nou nie liegstories nie, die arme mense het hulle eerste krag via generators gehad, vandag is ons nogsteeds op generators hier, water is aangelê maande na hulle aankoms.

So ook nie aircons of fans in die Afrika hitte nie, shame, ek's vandag bly ek het eers jare later op die expidiesie gekom. 

So vertel hy ook van die "ways" wat hulle dinge gedoen het, hy sê een dag sien hulle 'n container in die pad afkom, maar hy sien nie die vragmotor nie en toe die container nader kom sien hy die ding word of 4 trollies gestoot! En langsaan hardloop die mannetjies saam, die container is ook so van die trollies afgelaai met jacks en dis hoe dit gedoen was!  

Nou dis die African way waarvan ek praat, en hulle dink dis die regte manier en is dood gelukkig daarmee. 

Ek het fotos gesien van hierdie huise waarin ons nou woon, so 10 of 12 jaar gelede toe Castell hier aangekom het en die brouery oorgeneem het.

Daar was heen mure om die 'village' nie en geen sekuriteit nie. Dit was maar skraps en vervalle. Die storte en toilette was net gate in die vloer, stowe was 2 plaat gasstofies en geen fans of aircons nie. Die vensters was 'air bricks' seriously. Wat het hulle gedoen om die muskiete uit te hou? Die meubels het nie bestaan nie en was van pallets gemaak.  Ek haal my hoed af vir ons voorlopers!

Nou moet ek sê dit het beslis vooruit beweeg, ek is tuff maar nie so tuff nie, sou nie so kon bly nie. Nie hier nie. Ek ag ons wie nou hier woon as gelukkig.  

Dit laat my dink aan die vooraanstaande oompie in Namakwaland wie die eerste spoel toilet in die huis laat insit het en die ou Jonas het so terugstaan en die affêre so bekyk en die oompie sê toe ja Jonas, dis nou vir as jy in jou huis wil kak!

 

Happy Monday maters.

 

Mag julle bekertjies vol loop die week.

 

Iretha

Friday 21 June 2013

'n Nuwe more


Ek staan inni more op en ek voel soooo in 'n groef of iets, ek doen die gewone dinge, trek my pers rokkie aan, sluip kombuis toe, ketel, koppies, ontbyt v Danie . . . als elke dag dieselfde, bad, post op my blog, bla bla bla, toe besluit ek, more gaan als verander, en ek sien uit daarna. 

Wakker word is wakker word, daai verander mens nie, maar ek verander die alarm se ringtone, hey lalala sing Bok. 

Ek cuddle eers so 'n bietjie agter manlief se blad en staan op, pp moet mens maar op dieselle manier doen, ek los die pers rok en trek 'n rooie aan. (Laat ek net gou die pers rok verduidelik. Ek het op die mark hier so 'n lelike pers rokkie van sagte lap gekoop en die hang in die badkamer aan 'n spyker en dis my "pajamas/kamerjas in een. Ek trek hom elke dag aan as ek opstaan want ek slaap in my natuurlike pajamas)  

Ek maak my hare hoog op my kop vas, jip, lyk sommer langer en jonger, en ek dink dit werk . . . ek voel klaar meer energiek as gewoonlik! 

Ek kry so 'n ligtheid in my stappie en ek maak sommer die koffie ook vandag in die masjien, dis lekker. Ek maak die gordyntjies wyd oop en skuif die venster oop, steek my seus uit en asem lekker diep in . . . eeewww . . . warm lug! Maar dis ok ek bly mos hier waar daar nie winter is nie, nooit nie, ek haal die pan uit ek klits 'n lekker omelet met kaas op, maak vir my ook een, gewoonlik eet ek nie so vroeg nie, dis kwart oor 7.  

Na die nuus en manlief uit is sit ek lekker Afrikaanse musiek aan en ek begin blog!  

Mensig vandag skryf ek skoon vinniger.  

Dit werk! 

Probeer bietjie die dag sommer van vroeg af verander en net klein bietjie anders en julle sal ervaar wat ek vandag gedoen het.  

Ek sit krullers in my hare en poeier my neus vandag want dis lekker om mens te wees!  

Met hare wat wip wip soos ek loop maak ek 'n draai ini tuin. Boontjies en tamaties groei al te mooi. Ek pluk 'n boontjie en eet hom sommer so van die rank af! Kraak vars.  

Ek maak tee ini ketel en vat van die mooi koppies en pierings, die smaak lekkerder as altyd.  

Gryp die dag outjies maak hom joune. Bou daai shield teen die gewone tannekners en sing ini verkeer (ek kan dit nie vandag doen nie want ek het nêrens om heen te gaan nie.  

Fredi Nest sing  - Het jy 'n besem en 'n hoed en 'n kat gekry . . . jy het my getoor . . . jy het my getoor . . .  

Gaan gym bietjie en dryf op die swembad soos 'n kurkprop, die warm son op my gesig met die koel water om my lyf. Ek sê dankie so dryf dryf. Krulle is nou mike tango maar dis ok, ek krul hulle weer. 

Die dag loop mooi, ek organise my hobbie kamer en als lyk so mooi en lekker, ek sal julle nog vertel van my hobbies. Kook kos en wag vir my man met 'n koppie koffie by die deur . . .

 

Lekker nuwe more vir julle!

 

Iretha

Kombi . . .



Ek sien nou 'n foto op Facebook van 'n ou ou kombi, en ek onthou die storie soos hy aan my oorvertel is . . .  

Een lente dag in 1967 was my ma hoog swanger met my, haar 3de kind. Hulle het gehoop vir nog 'n seuntjie.  

Hulle het daai jare in Hondeklipbaai gebly. Oompie Fanie en Tannie Baadjie van O'Kiep het daar gekuier. Nou kyk, Tannie Baadjie was ook 'n suster soos my ma (verpleegsters / vroedvroue) en die het blykbaar so omgesien na my ma. Oompie Fanie was ma se broer.  

Nou blykbaar in die namiddag van die 9de September besluit ek dis tyd om aan te kom. Die Oompie was op die vaaljapie en hulle was aant vleisbraai en die kombi moes nou Nababeep toe.  

Nou as jy die omgewing ken sal jy my nou verstaan. Garies was nader, en Springbok moes gedeur word sodat ek op Nababeep die eerste lig kon aanskou! Die antwoord is seker maar omdat die tannie daar verpleeg het.  

So is almal, kinners en al toe blykbaar in die kombi geboender, vaaljapie, hospitaal tassie en al. Daar naby Wallekraal se wirrrgate is die oompie amper van die pad af met daai kombi, word vertel, die een outjie was getaak om daai oorkan regop te hou, vaaljapie mag nie gestort het nie. Op 'n kol beland hulle teen 'n sandwal, almal skud en stoot om die kombi daar uit te kry, en daar gaat hulle weer! Nog 'n vraag, hoekom het pa dan nie bestuur nie! Nee ek weet nie. Nou dis so om en by 60 myl se grondpad tot by Garies se afdraai as hulle nie Willeperdehoek gevat het nie, maar ek twyfel want dan was daai kombi beslis teen die klippe af ondertoe!

Of was hulle dalk op daai pad? Want ek was al my kinderjare bang vir daai paadjie. 

Nababeep het hulle toe gehaal, hoe my arme ma in kraam moes oorleef weet ek ook nie, maar ek is vertel dat ek gekom het so met die lê kry slag in daai hospitaaltjie!  

Tien oor 2 die oggend van die 10 de September maak ek my opwagting, 3 pond 4 onse, net so 'n ou katspoeggie van 'n dogtertjie! Oorle ouma Letjie het blykbaar tot haar dood geglo ek was een van 'n 2ling. Ek soek daai 2ling suster tot vandag toe, sien as ek 'n 2 ling was, en hulle het net een gehou en die ander was 'n seun sou hulle hom mos gehou het en nie vir my nie want ek is 'n dogtertjie, want ouma sou mos weet, ouma het immers die smeer werk gedoen.  

Nou die Oompie Fanie en die vaaljapie het nie net gesorg dat ek byna in 'n kombi gebore is nie, of dalk nie gebore was nie, hy was ook verantwoordelik vir ander dinge. Goed wat vir 52 jaar geheim gehou is. Ma is graf toe met daai geheim.  

Jy sien die ding loop so:  

My suster is paar jaar voor my (daars nog 'n broer tussen ons) en met die se geboorte was wie by? Tannie Baadjie en Oompie Fanie, dis nou die seun van oom Isak Bril, my oorle oupa wie ek nie geken het nie.  

Nou die dag hoor ek en my sus dat ons so 'n week na mekaar gaan ouma word, jong en ons is opgewonde en Marie stuur vir pa 'n sms.  

Die baba se tyd is die 12de Augustus en as dit 'n dag vroeg is verjaar sy saam met my (dis nou my suster)

Oupa reply, nee dis die selle dag as jy.

Nou dis maklik om confused te raak met Oupa Japie saam en sy vra toe maar.

Nee, sê hy vir haar, jy verstaan nie, jy verjaar eintlik die 12de, maar Oompie Fanie het jou gaan registreer en was bietjie oppi vaaljapie en toe vergeet hy die datum.

Jy verjaar eintlik op die 12de en nie die 11de nie!  

En my suster BBM my en sy sê pa sê ek verjaar op die verkeerde dag.

En ek vra wat nou?

En sy sê, nee Oompie Fanie was weer dronk.

En ek vra heel deur die weer geslaan watter Oompie Fanie dan nou, die een wie ek ken is dood.

Sy sê, ja daai ene.

En ek sê nou hoekom laat hulle hom jou registreer, maar ons ken nie daai antwoord nie.

Nou vra ek, hoekom het ma al die jare niks gesê nie?

Nee sê sy, hulle het dit maar so gelos.

Nou praat pa eers na 52 jaar oor die storie? Vra ek.

Ja se sy, en hy lag al te lekker.

Vra hom wat moet ons nog weet. 

Antwoord kom so na 'n uur: 

Hy sê, nee darm niks ernstigs wat hy kan onthou nie! En Iretha is nie een van 'n 2ling nie. Ek glo dit nogsteeds nie 

Nou sien julle, ek het net daar en dan besluit, daar is nie nog sulkes soos ons nie!  

En die foto van die ou kombi kom ruk hierdie storie uit my pen uit!

 

Liefde groete

 

Iretha

Thursday 20 June 2013

Die tradisionele troue . . .

 

Ons word mos toe uitgenooi na 'n troue toe, eg tradisioneel Nigerian. 

Eers kom die uitnodiging, pragtig in lemmetjie groen en pienk.  

Toe kom die materiaal, ja materiaal. Al die brouery se mense gaan klere van hul eie styl maar dieselfde materiaal dra sodat ons seker geien kan word.  

Toe kom die tailor! Uit iets wat soos 'n koerant lyk kies ons snitte en style vir die attire vir die groot dag. Head gear en al. Danie kry so 'n doibie dingetjie en ek blykbaar 'n gili. (gielie uitgespreek) 

Als goed en wel, die tailors is hier weg met die lap en so vergeet mens mos maar van die gedoente. Een middag kry ek die oproep van die tailors wie wil kom fit. Ek sê toe maar, maar dis reg, en hulle kom met tannekaste op display hier in.  

Vir my het die top en romp goed gepas, geline en als, dem netjies moet ek se as jy na nie naaiwerk kyk, vir Danie so 'n tipiese top en broek, naby pajamas, en toe kom die head gear! Kyk ek piepie soos ek lag, daar ontaard my man in 'n kabouter of 'n ding, ek lag nog so lekker toe plak hulle daai gili op my kop en ek voel die ding se gewig en hulle klap hande en ons pose voor die spieël. Als pas mooi en hulle is hier weg.  

Nou word daar oor en weer fotos geneem en gebbm en die bure kom oor om die affêre te bekyk en net daar en dan hoor ons maar hulle is ook genooi en moet ook sulke klere kry! Nog 'n tailor sessie en ons almal is trotse eienaars van lemmetjie groen en pienk pakkies.
 
 
 

So breek die dag van die troue aan, ons almal steek kop by die deure uit en lyk of ons afstamelinge van dieselfde kabouter familie is. Maar nou ja gewapen met kameras sit ons toe af kerk toe.

 

By die kerk aangekom is daar hordes fotograwe en ons smile en pose ewe gedwee, net om paar minute later agter te kom ons moet nou daai fotos by hulle koop, nie lank nie en ons het almal fotos op ons skote in die kerk. Die fotos word sommer daar by die kerk geprint en net daar in die kerk aan ons verkoop. Dis 'n babelse lawaai en verwarring maar ons word geissue met boekies wat die hele diens en seremonie woord vir woord in engels en die local dialek weergee.

 

Die musiek begin en ek wip soos ek skrik, die mense moes doof gebore gewees het want dit blêr behoorlik. Die kerk loop vol en die ding begin, nou probeer jy maar die affêre so met die boekie volg, en dan Amen hulle en die jong girl langs my pomp my in die ribbes en beduie ek moet amen en so half opvlieg en buig. Maar ek is elke keer so bietjie agter die tyd. Buurvrou wil haar gat af giggel en die gili wil nie meer mooi sit nie, dis warm en die sweet wat so gedweë onder die hare uitloop maak die ding rek en ek sit amper die hele tyd met my hand op my kop.

Volgende oomblik nog 'n pomp ini ribbes en 'n handjie wat wys kom, shit, wat nou? Al die vrouens dans in die rondte om die banke en so beland ek al (soos Danie dit stel) Madiba shuffelend in die kerk af, dis toe 'n gekollekteerdery!! Voor in die kerk staan 2 groot kollekte sakke, nes die kleintjies wat ons by die deure gebruik, maar net so 'n rapsie groter as 'n asblik!! Ons het net 1000 Nira note by ons en gooi maar in. Terug gejive jive sitplek toe en die bruid arriveer, die rok was so wit sy was pik swart, of sy is so pikswart die rok lyk spierwit! Nou is dit 'n affêre, die gevolg gedress is pienk muskiet skoene (muskiete is die local 'ladies of the night' wat seker dag en nag werk want hulle is orals waar jy kom, so dink bietjie, muskiete steek mos, hiehiehie) en lemmetjie groen rokke!
 
 
 
 
Die serimonie begin en dis nie gou oor nie, dis 'n lang storie, en die paartjie gaan sit uiteindelik op hulle stoele voor in die kerk. Daar is 'n moerse remoer en klink of iemand nou uitgekak word! Ek rek my nek, vang die gili en plak hom terug op my kop, voor die paartjie staan al die tannies en wys met die vingers en die een wil harder skree as die ander, ware uitkak sessie! Ek dog by myself, wat het hulle nou verkeerd gedoen. Die girl langs my sien my verwarring en beduie 'they are naming their children' !!  

So preek die pastoor verder en dan begin die danspassies weer en ons word weer beduie om te kom, nog 'n 1000 nira, eintlik 2000 want ons is mos 2, die kore sing, daar was 2, een aan elke kant van die kerk en hulle sing teen mekaar, nou begin ek dink ek is ook doof en my gai is vierkantig gesit,  my boude is seer en ek wil nommer een.

Ek wink vir buurvrou met die kop en ons slip by die deur uit. Buite staan nog amper net soveel mense as binne, ewe gesellig en kuier. Ons spot so 'n ouerige vrou en vra waar kan ons toilet toe gaan. Die beduie met so 'n liggie ini ogies om die kerk, en ons om die kerk, en daars net sulke kamers, lyk of hulle daar bly, vra weer vir 'n piepie plek en 'n ander een wie beter verstaan beduie tussendeur die karre en daar staan nie toilet! 'n Boom!! Nou sê ek vir buurvrou, my wit agterstewe gaan nie mooi vertoon as ek hierdie giggel groen rokkie oor my kop trek nie, ek knyp maar. So is ons vol blasies en al terug in die kerk in. En daar suffle ons alweer! Nog 2000 naira in die sakke in, dan skud skud hulle dit so bietjie en beduie nog 'n keer. Nou raak ons steeks. Genoeg is darm nou genoeg. Toe hulle sien dit werk nie stuur hulle die bruidspaar met groot knie skottels soos ouma s'n om die laaste sente uit die mense uit te ryg. En dit gaan aan en aan en aan, sing en suffle en bid. Die klomp praat sommer op hulle selfone in die kerk want niemand word gepla nie want jy hoor anyway net die lawaai.  

Drie (3) ure later, met 'n nou totale dooie gat en leë beursie en blaas wat so vol is ek sweer ek hoor hom squeak, loop ons uit die kerk uit. Behoede my!! Fotosessie saam met die bruidspaar!  

Kyk nou loop ek krom, treetjie vir treetjie kar toe, ons ry almal saam met buurman en besluit op stuk ons gaan eers by die huis verligting soek en iets drink en dan weer onthaal toe.  

So gesê so gedaan. By die onthaal aangekom word ons plekke aangewys, die musiek blêr en iemand met 'n mike ini hand en raas onverstaanbaar voort, al die groen kabouters sit saam. Bier, koeldrank, water, sap,wyn en whiskey word voor ons op die tafel gepak. Die kos kom, klaar opgeskep. Jaaaa, jy het reggeraai, Nigerian cuisine!

Jolof rice, rooies en geles, jerked beef met skin, moi moi en koolslaai. Lepels word uitgedeel. Nou ek eet mos nou al die jolof rice maar as jy dit met die geel rys meng is dit eetbaar, waai die vlieë, vleis . . . oe ehe . . . nie vandag nie! Koolslaai ja! En nou sal jy my nie glo nie, moi moi is lekker, lekker soos purity se groente kos met 'n stuk hoender in die middel. Moi moi word van boontjies gemaak wat gekook, gemaal en dan om die hoender gepak word en in 'n sakkie gestoom word. Tradisioneel kom dit toegedraai in piesang blare. Ja, ek proe nogsteeds aan als, nog nie my les geleer nie maar die groein-wintertyd-snot- kar-tou sous sal ek nie try nie.  

Die bruidspaar kom aan en word met geld gegooi, nog geld! Skielik onthou ek weer waar ons bly, hulle scheme jou sommer so oop oë uit jou geld uit. Onthou ek het nooit gesê ons het vir die lappe betaal nie, nou het ons al. 

Die bruidspaar sit in 'n tentjie in die middel van die party en word sporadies deur almal besoek. Teen die tyd was ons fodde, die koek word gensy, kinders harloop rond en die man met die verbal diarea gaan mal met die mike. Danie en buurman begin die whiskey en sap meng en ek sê vir buurvrou, as ons nie nou huis kry nie gaan die 2 die party begin geniet en wie weet, nou nou dans ek weer noodgedwonge saam met die klomp, of sakkie sakkie op Alakia se musiek.  Met groot oortuiging en slim beloftes en sweet wat in die oë loop groet ons en verlaat die onthaal! 7 ure later en pootuit. 

Done it, got the clothes, nie gou weer nie.  

Kyk dis seker maar die dinge wat mens moet doen om die experience te kan beleef, maar hel die Afrika experience is nie vir sissies nie.  

Die fotos wat ons hier neem is getoor, die plek lyk goor maar om die een of ander rede kom dit altyd so uit dat dit eintlik heel kleurvol lyk.  

Wens ons was in Star Trek se tyd sondat ek julle kon op 'beam' sodat julle ook die ervaringe kan beleef.

Even in al hierdie geroemoes loop die bekertjie oor!  

I love Africa! True as jannas.

 

Iretha

Wednesday 19 June 2013

Local is nie altyd lekker nie


My eerste ervaring van local kos

 

Ons was kort in die land en word uitgenooi vir ete en 'n fare well party by Zenababs Halfmoon Resort, sommer so 'n katspoegie hier anderkant die berg. Padlangs vat dit jou so 'n halfuur maar soos die kraai vlieg sou dit seker 10 minute gevat het om daar te kom.

 

Oppad soontoe lag ons ons lekker pap want jy sien, langs die pad is daar sulke slote gegrawe en mooi uit gemessel, dis nou vir stormwater en sommer als, tot 'n storm in die magie. Die is mos nou nie toe gamaak nie en werk mos al lankal op my senuwees. Die ry aan die verkeerde kant van die pad, en ek wat mos nou naaste aan die sloot sit, en ek sweer slag slag Danie sien nie die sloot nie en ek trap briek die hele pad.

 

So kom 'n outjie toe uit sy erfie uitgery so in reverse en agter hom in die pad, dis nou agter die reversende ene, staan 'n okada en 'n paar vrouens. Die arme drommel reverse nog so toe stamp hy die okada raak (dis 'n 125cc motorfiets), hoor die slag, kyk in sy truspieëltjie en sien niks nie, al wat gebeur is die vrouens se monde val oop soos brommervangers. Nou teen die kyk slag toe lê die okada al onderstebo in die sloot en meneer die drywer sien niks nie want die sloot is mos diep, en trek weg en ry. Die klomp vrouens kry weer hulle asems terug en monde nog oop begin te skree en skel. Arme ou weet nie wat aangaan nie en ry toe maar aan. Ek is seker hy het later bietjie moeilikheid gehad.

 

So teen daai tyd toe skree ons ook van die lag.

 

Maar ons is oppad na die party en weet nou nie eintlik wat om te verwag nie, maar is lekker honger.

 

Daar aangekom word ons soos konings verwelkom en in die eetsaal ingelei. Binne is alles te koekig met groen en oranje satyn opgemaak! Plastiek blomme in glas vase op die tafels rond die prentjie mooi af. Tot die stoele is in die gladde blink lap gedrapeer.

 

Ons kry 'n tafel en neem plaas, die musiek is oorverdowend hard, nou nie Bles Bridges nie, Nigerian local hits. So oor die lawaai word 'n mandjie, die soos in Pick n Pay, met bier en water aangedra. Kyk ons is mos van die brouerye so die goed is verniet maar siende dat ek nie bier drink nie stick en maar by die water en bid so half half vir iets sterker wand hier gaan ek dit vandag nodig hê!

 

Hulle gee die een ou 'n mike en hy love daai mike, hy trek weg en begin praat en het gepraat deur die party, deur die ete, deur die musiek, toe ons daar weg is het hy nogsteeds met die mike gestaan en gesels asof hy met homself praat want g'n mens kan hoor of verstaan wat hy sê nie.

 

Die kos, ons was honger het ek gesê, was 'n buffet ete. Pepper soup. (met vis of vark) Ek vat vannie vis. (lank lank gelede het ek 'n vreeslike lekker vissop geëet en met die in my gedagtes kies ek vis) Jerked pork, jerked beef, jerked chicken – my ondervinding die aand het my geleer dat jerked beteken uitgedroog in die oond. So met 'n stukkie beef en chicken in die bord, kom ek by die jolof rice. Lyk lekker, so rooierig met goed wat soos groente stukkies in lyk. Ek skep. Spinasie, ek skep, iets wat soos tamatie en uie smoor lyk, ek skep oppi rys, nog groen goed, en toe ek sien die een voor my haal daai lepel uit die pot toe maak my maag 'n draai, dis groen snot, middel van die winterverkoue snot, lyk loperig maar is redelik taai, draderig soos al asof mens 'n kar daarmee kan tou. Eeeewwww. Skip. Bruin blokke goed met sous, ek ruik ruik so oor die bak en dit ruik aanvaarbaar en ek skep. Kool en wortel slaai en ek skep. Nou met 'n stewige bord vol kos voor my en 'n vurk ini gand, keuse was vurk of lepel. Skiet gebedjie vir my gesondheid en ek traai daai sop. Holy  .   .   .    . ek vlieg op gryp ma my mond, sluk nog 'n slag, kry nie asem nie, maak my mond oop, hyg, hoes proes, gryp die water, blik so in Danie se rigting, die trane loop uit sy oë, sy gesig is rooi, hy het nie sop geeet nie, die donner lag, lag vir my! Hy ken toe al die storie! Daai sop is van die heiligstes van alle moeders van peper gemaak. Vis wat wou, die het seker uitgeklim lank voor die goed in my bord gekom het. Ek vat so 20 minute en 'n liter water later om weer tot verhaal te kom.

Nou sit ek weer soos 'n wafferse dame netjies by die tafel en soppies eenkant toe gestoot. Nou sal ek maar 'n happie rysie vat om my mond bietjie te lawe. O bliksemstraal! Daai rooi rysies is gechillie tot net duskant daai holy mother van peper, seker die se niggie of 'n ding gewees. Nou sluk ek meer water as kos, kyk as dit so aangaan versuip ek myself voor my bord leeg is. Ek skep so versigtig 'n bietjie van die tamatiesmoor van die rys af, soek naarstigtelik lafenis. Nee die brand nou so dat ek nie kan besluit of dit nou brand of vlamvat nie. Die sweet en make up kom sulke witterige strepe oor my gesig geloop. Die tissue, nie servet nie, hulle sit tissues op die tafel, vertel my onderlaag, blosser maskara, eye shadow, alles loop af soos roomys ini son. Nou weet ek hoekom dit tissues is en nie servette nie, die snot en trane volg outomaties. Sinusse was lanklaas so oop!

Ek reken toe so by myself, laat ek maar die spinasie eet. Mmmm lekker spinasie, ek hou hoeka van die goed. Happie oppie vurk soos 'n dame probeer ek my pose hou, Danie lyk nou bekommerd of bedonnerd.

O my . . . nou sit ek met 'n bek wat nog brand vol spinasie en ek weet waar die vis loop dekking slaan het, en dis nie vis soos snoek of hake of wat ook al nie, toe hy my smaak bekertjies vul toe weet ek dis baber se kind, smaak my ek kyk in sy oë! En ek eet nie daai ding nie, nie met sy baarde en plat bek en slym lyf nie. Ek kannie sluk nie, die kieste maak water hier binne my mond en ek kyk vir die tissue in my hand, opgevrommel en vol makeup. Ek voel hoe daai rooi van die hitte plekke maak vir die asvaal van naar. Ek gryp nog twee tissues uit die boks, pienke en 'n gele, en ek maak of ek my neus af vee en Danie kyk my daai kyk, die ander se oë is nou op my gerig. Ek weet vandag nog nie of hulle gesien het nie, maar daai spinasie met die baber en al is nie in my keelgat af nie. Trane sit vlak in my oë en ek probeer braaf die jerked vleisie met die vurk steek, sjoefs daar trek hy oor die tafel. Ek vang hom soos 'n geoefende en sit hom terug ini bord. Ek kyk rond, die ander eet die jerkies met hulle hande, oë nog op my, ek dog, nou gaat jy nerens heen nie en slaan my tanne en vingers om die stukkie vleis, nope, jou tanne moet geoefen wees vir die sessie, ek sit maar weer die vleisie mooitjies langs die hel rysies neer.

 

Nou kyk daai blokkies goed met die sous lyk sag en ek steek so staaadig saggies, net vir ingeval hulle ook spring, met die vurk na hulle. Hey hey, dis sag en ek vat 'n happie so van 'n hoekie. Ummmm ok, kan hulle kou en die smaak lui iewers 'n klokkie maar ek's honger en ek vat nog 'n happie. Dottie leun so oor na my kant toe en vra in gebroke engels, you know what this is? Nee skud ek my kop nog kouende. Wat vra ek bo die lawaai van die musiek en praatsiek moer met die mike uit. It's cow skin! O my pok, nou is dit nie meer snaaks nie, in my maag is die brand van die pepper soup en die eggo van die hel se rys en nou die rubber sagte beesvel . . . ek staar voor my uit, ek dink. Koolslaai!! Wraggies daar was niks verkeerd met die koolslaai nie. Ek's later die aand huistoe met peper, een skeppie rys 'n happie beesvel en koolslaai in my magie. Ek was nie gou weer honger nie.

 

Nou vandag, amper 2 jaar later eet ek jolof rice, ek skip nog die spinasie en ek eet die jerked vleis, maar net as daar nie nog vel aan is nie, ek kyk mooi. In Wes Afrika slag hulle mos met vuur en brand die hare af en kap dan die vleis in stukke met 'n panga. Die word dan so met die vel en al voorberei.

 

Moet nooit weer vra hoekom ek my eie huisvleisies hiernatoe bring nie, hoekom daar nie take aways gekoop word nie  . . .  julle behoort te verstaan . . .

 

Geniet vanaand se kossies, dis spesiaal!

 

Ek het myself nou in 'n sooibrand ingeskryf!

 

Tot volgende keer.

 

Iretha