Translate

Monday 10 June 2013

My eerste gorrel . . .

Nou ja, ek sal julle hier vertel van baie dingetjies van die lewe aan die anderkant van die ewenaar . . . die blymaak goed, die langtand goed en die tong ini kies goed . . . ek skryf ook 'n boek oor die dinge, van gee met 'n oophand en dankie sê as iets jou kant toe val . . .

So 2 jaar gelede het ons (dis nou ek en my man Danie) besluit om op te pak en aan die anderkant van die ewenaar te kom bly - op die Afrika kontinent - in Nigeria, moet nou nie dink dis malligheid nie want dan moet ek jou sê dis nie so mal nie, ons is nogal heelwat malletjies hier. ;-)

Maar voor die dag van die besluit gekom het het ek so baie hooi op my vurk gehad dat ek nie meer geweet het watter kant toe nie, dit was stiefkinders, skool, werk, huis, kos, skoonmaak en weer voor begin elke dag, en as jy iets vandag laat oortsaan na more toe dan het more ook nog sy verrassingkies en so sneeubal als net en jy weet later nie meer herwaarts of derwaarts nie.

Nou op so 'n sneeubal dag, ry ek huistoe van die werk af, en ek kan jou presies gaan wys waar, onthou ek wat my pa altyd sê: "Jy hoef nie jou oë toe te maak om te bid nie" en ek vat daai bakkie se wiel vas en ek bid, nie baie nie net dit : " Here, asseblief, ek vra net rus en vrede" en dit was dit. Daar gaat die dag toe aan soos al die ander.

So kom die geleentheid mos toe, en ons vat hom, ons kyk nie links of regs nie, ons vat hom so met altwee ons hande of sal ek sê al 4 ons hande. Ek sal nog later vertel van al die konsternasies van oppak en aankom en als.

En so 2 weke nadat ek hier in 'n klein dorpie in Nigeria kom nes skrop het sit ek eendag so na my nuwe tuiste en kyk en die Here sit dit hier in my kop in - Dis mos waarvoor jy gevra het, dan nie? En ek is so bly ek dans amper die riel van bly geit, die Hemelse Vader is lief vir my ook, ek het my rus en vrede gekry!!

Toe soos dit mos maar menslik is begin ek wonder wat gemaak met die rus en vrede? Ek voel dan soms so skuldig as my man so moeg gewerk is! Dan kook ek maar lekker kossies, huis kossies en ek maak dit lekker vir hom en dan wonder ek, is dit nou dit? Toe lees ek eendag, want kyk, tyd vir lees het ek mos genoeg, van iemand wie vir 'n ander sê; kyk na die vlam van die kers, maak jou lig skyn soos die kers s'n en gaan uit en laat jou lig elke dag skyn . . .

Nou, mense, nou laat ek my lig skyn, ek sal julle vermaak met my staaltjies en stories en dingetjies soos net ek kan  . . .

Tot volgende keer!

Iretha

2 comments:

  1. Stunning buurvrou, well done, trots op jou!

    ReplyDelete
  2. Baie baie oulik! Gaan geniet om jou gorreltjies te lees. Xxx

    ReplyDelete