Translate

Friday 21 June 2013

Kombi . . .



Ek sien nou 'n foto op Facebook van 'n ou ou kombi, en ek onthou die storie soos hy aan my oorvertel is . . .  

Een lente dag in 1967 was my ma hoog swanger met my, haar 3de kind. Hulle het gehoop vir nog 'n seuntjie.  

Hulle het daai jare in Hondeklipbaai gebly. Oompie Fanie en Tannie Baadjie van O'Kiep het daar gekuier. Nou kyk, Tannie Baadjie was ook 'n suster soos my ma (verpleegsters / vroedvroue) en die het blykbaar so omgesien na my ma. Oompie Fanie was ma se broer.  

Nou blykbaar in die namiddag van die 9de September besluit ek dis tyd om aan te kom. Die Oompie was op die vaaljapie en hulle was aant vleisbraai en die kombi moes nou Nababeep toe.  

Nou as jy die omgewing ken sal jy my nou verstaan. Garies was nader, en Springbok moes gedeur word sodat ek op Nababeep die eerste lig kon aanskou! Die antwoord is seker maar omdat die tannie daar verpleeg het.  

So is almal, kinners en al toe blykbaar in die kombi geboender, vaaljapie, hospitaal tassie en al. Daar naby Wallekraal se wirrrgate is die oompie amper van die pad af met daai kombi, word vertel, die een outjie was getaak om daai oorkan regop te hou, vaaljapie mag nie gestort het nie. Op 'n kol beland hulle teen 'n sandwal, almal skud en stoot om die kombi daar uit te kry, en daar gaat hulle weer! Nog 'n vraag, hoekom het pa dan nie bestuur nie! Nee ek weet nie. Nou dis so om en by 60 myl se grondpad tot by Garies se afdraai as hulle nie Willeperdehoek gevat het nie, maar ek twyfel want dan was daai kombi beslis teen die klippe af ondertoe!

Of was hulle dalk op daai pad? Want ek was al my kinderjare bang vir daai paadjie. 

Nababeep het hulle toe gehaal, hoe my arme ma in kraam moes oorleef weet ek ook nie, maar ek is vertel dat ek gekom het so met die lê kry slag in daai hospitaaltjie!  

Tien oor 2 die oggend van die 10 de September maak ek my opwagting, 3 pond 4 onse, net so 'n ou katspoeggie van 'n dogtertjie! Oorle ouma Letjie het blykbaar tot haar dood geglo ek was een van 'n 2ling. Ek soek daai 2ling suster tot vandag toe, sien as ek 'n 2 ling was, en hulle het net een gehou en die ander was 'n seun sou hulle hom mos gehou het en nie vir my nie want ek is 'n dogtertjie, want ouma sou mos weet, ouma het immers die smeer werk gedoen.  

Nou die Oompie Fanie en die vaaljapie het nie net gesorg dat ek byna in 'n kombi gebore is nie, of dalk nie gebore was nie, hy was ook verantwoordelik vir ander dinge. Goed wat vir 52 jaar geheim gehou is. Ma is graf toe met daai geheim.  

Jy sien die ding loop so:  

My suster is paar jaar voor my (daars nog 'n broer tussen ons) en met die se geboorte was wie by? Tannie Baadjie en Oompie Fanie, dis nou die seun van oom Isak Bril, my oorle oupa wie ek nie geken het nie.  

Nou die dag hoor ek en my sus dat ons so 'n week na mekaar gaan ouma word, jong en ons is opgewonde en Marie stuur vir pa 'n sms.  

Die baba se tyd is die 12de Augustus en as dit 'n dag vroeg is verjaar sy saam met my (dis nou my suster)

Oupa reply, nee dis die selle dag as jy.

Nou dis maklik om confused te raak met Oupa Japie saam en sy vra toe maar.

Nee, sê hy vir haar, jy verstaan nie, jy verjaar eintlik die 12de, maar Oompie Fanie het jou gaan registreer en was bietjie oppi vaaljapie en toe vergeet hy die datum.

Jy verjaar eintlik op die 12de en nie die 11de nie!  

En my suster BBM my en sy sê pa sê ek verjaar op die verkeerde dag.

En ek vra wat nou?

En sy sê, nee Oompie Fanie was weer dronk.

En ek vra heel deur die weer geslaan watter Oompie Fanie dan nou, die een wie ek ken is dood.

Sy sê, ja daai ene.

En ek sê nou hoekom laat hulle hom jou registreer, maar ons ken nie daai antwoord nie.

Nou vra ek, hoekom het ma al die jare niks gesê nie?

Nee sê sy, hulle het dit maar so gelos.

Nou praat pa eers na 52 jaar oor die storie? Vra ek.

Ja se sy, en hy lag al te lekker.

Vra hom wat moet ons nog weet. 

Antwoord kom so na 'n uur: 

Hy sê, nee darm niks ernstigs wat hy kan onthou nie! En Iretha is nie een van 'n 2ling nie. Ek glo dit nogsteeds nie 

Nou sien julle, ek het net daar en dan besluit, daar is nie nog sulkes soos ons nie!  

En die foto van die ou kombi kom ruk hierdie storie uit my pen uit!

 

Liefde groete

 

Iretha

3 comments:

  1. Daar is fout met aunty - hehehe!! Lekker lag ek nou!!!

    ReplyDelete
  2. Hulle noem dit afsondering . . . kop raas, lmga.
    Jou skoonma sê:
    Marie Mower: Jy sien Ma het net vir jou huistoe gebring, so n klein sussie met sulke in draai handjies soos n pop

    Mwah

    ReplyDelete
  3. HAHAHA!! Hoe lekker lag ek nou!!! En oupa en ouma het vir jare hierdie geheim gehou! Wonder hoe lekker het gegiggel elke jaar op Tannie Marie se "regte" verjaarsdag! :-)

    ReplyDelete