Translate

Wednesday 19 June 2013

Local is nie altyd lekker nie


My eerste ervaring van local kos

 

Ons was kort in die land en word uitgenooi vir ete en 'n fare well party by Zenababs Halfmoon Resort, sommer so 'n katspoegie hier anderkant die berg. Padlangs vat dit jou so 'n halfuur maar soos die kraai vlieg sou dit seker 10 minute gevat het om daar te kom.

 

Oppad soontoe lag ons ons lekker pap want jy sien, langs die pad is daar sulke slote gegrawe en mooi uit gemessel, dis nou vir stormwater en sommer als, tot 'n storm in die magie. Die is mos nou nie toe gamaak nie en werk mos al lankal op my senuwees. Die ry aan die verkeerde kant van die pad, en ek wat mos nou naaste aan die sloot sit, en ek sweer slag slag Danie sien nie die sloot nie en ek trap briek die hele pad.

 

So kom 'n outjie toe uit sy erfie uitgery so in reverse en agter hom in die pad, dis nou agter die reversende ene, staan 'n okada en 'n paar vrouens. Die arme drommel reverse nog so toe stamp hy die okada raak (dis 'n 125cc motorfiets), hoor die slag, kyk in sy truspieëltjie en sien niks nie, al wat gebeur is die vrouens se monde val oop soos brommervangers. Nou teen die kyk slag toe lê die okada al onderstebo in die sloot en meneer die drywer sien niks nie want die sloot is mos diep, en trek weg en ry. Die klomp vrouens kry weer hulle asems terug en monde nog oop begin te skree en skel. Arme ou weet nie wat aangaan nie en ry toe maar aan. Ek is seker hy het later bietjie moeilikheid gehad.

 

So teen daai tyd toe skree ons ook van die lag.

 

Maar ons is oppad na die party en weet nou nie eintlik wat om te verwag nie, maar is lekker honger.

 

Daar aangekom word ons soos konings verwelkom en in die eetsaal ingelei. Binne is alles te koekig met groen en oranje satyn opgemaak! Plastiek blomme in glas vase op die tafels rond die prentjie mooi af. Tot die stoele is in die gladde blink lap gedrapeer.

 

Ons kry 'n tafel en neem plaas, die musiek is oorverdowend hard, nou nie Bles Bridges nie, Nigerian local hits. So oor die lawaai word 'n mandjie, die soos in Pick n Pay, met bier en water aangedra. Kyk ons is mos van die brouerye so die goed is verniet maar siende dat ek nie bier drink nie stick en maar by die water en bid so half half vir iets sterker wand hier gaan ek dit vandag nodig hê!

 

Hulle gee die een ou 'n mike en hy love daai mike, hy trek weg en begin praat en het gepraat deur die party, deur die ete, deur die musiek, toe ons daar weg is het hy nogsteeds met die mike gestaan en gesels asof hy met homself praat want g'n mens kan hoor of verstaan wat hy sê nie.

 

Die kos, ons was honger het ek gesê, was 'n buffet ete. Pepper soup. (met vis of vark) Ek vat vannie vis. (lank lank gelede het ek 'n vreeslike lekker vissop geëet en met die in my gedagtes kies ek vis) Jerked pork, jerked beef, jerked chicken – my ondervinding die aand het my geleer dat jerked beteken uitgedroog in die oond. So met 'n stukkie beef en chicken in die bord, kom ek by die jolof rice. Lyk lekker, so rooierig met goed wat soos groente stukkies in lyk. Ek skep. Spinasie, ek skep, iets wat soos tamatie en uie smoor lyk, ek skep oppi rys, nog groen goed, en toe ek sien die een voor my haal daai lepel uit die pot toe maak my maag 'n draai, dis groen snot, middel van die winterverkoue snot, lyk loperig maar is redelik taai, draderig soos al asof mens 'n kar daarmee kan tou. Eeeewwww. Skip. Bruin blokke goed met sous, ek ruik ruik so oor die bak en dit ruik aanvaarbaar en ek skep. Kool en wortel slaai en ek skep. Nou met 'n stewige bord vol kos voor my en 'n vurk ini gand, keuse was vurk of lepel. Skiet gebedjie vir my gesondheid en ek traai daai sop. Holy  .   .   .    . ek vlieg op gryp ma my mond, sluk nog 'n slag, kry nie asem nie, maak my mond oop, hyg, hoes proes, gryp die water, blik so in Danie se rigting, die trane loop uit sy oë, sy gesig is rooi, hy het nie sop geeet nie, die donner lag, lag vir my! Hy ken toe al die storie! Daai sop is van die heiligstes van alle moeders van peper gemaak. Vis wat wou, die het seker uitgeklim lank voor die goed in my bord gekom het. Ek vat so 20 minute en 'n liter water later om weer tot verhaal te kom.

Nou sit ek weer soos 'n wafferse dame netjies by die tafel en soppies eenkant toe gestoot. Nou sal ek maar 'n happie rysie vat om my mond bietjie te lawe. O bliksemstraal! Daai rooi rysies is gechillie tot net duskant daai holy mother van peper, seker die se niggie of 'n ding gewees. Nou sluk ek meer water as kos, kyk as dit so aangaan versuip ek myself voor my bord leeg is. Ek skep so versigtig 'n bietjie van die tamatiesmoor van die rys af, soek naarstigtelik lafenis. Nee die brand nou so dat ek nie kan besluit of dit nou brand of vlamvat nie. Die sweet en make up kom sulke witterige strepe oor my gesig geloop. Die tissue, nie servet nie, hulle sit tissues op die tafel, vertel my onderlaag, blosser maskara, eye shadow, alles loop af soos roomys ini son. Nou weet ek hoekom dit tissues is en nie servette nie, die snot en trane volg outomaties. Sinusse was lanklaas so oop!

Ek reken toe so by myself, laat ek maar die spinasie eet. Mmmm lekker spinasie, ek hou hoeka van die goed. Happie oppie vurk soos 'n dame probeer ek my pose hou, Danie lyk nou bekommerd of bedonnerd.

O my . . . nou sit ek met 'n bek wat nog brand vol spinasie en ek weet waar die vis loop dekking slaan het, en dis nie vis soos snoek of hake of wat ook al nie, toe hy my smaak bekertjies vul toe weet ek dis baber se kind, smaak my ek kyk in sy oë! En ek eet nie daai ding nie, nie met sy baarde en plat bek en slym lyf nie. Ek kannie sluk nie, die kieste maak water hier binne my mond en ek kyk vir die tissue in my hand, opgevrommel en vol makeup. Ek voel hoe daai rooi van die hitte plekke maak vir die asvaal van naar. Ek gryp nog twee tissues uit die boks, pienke en 'n gele, en ek maak of ek my neus af vee en Danie kyk my daai kyk, die ander se oë is nou op my gerig. Ek weet vandag nog nie of hulle gesien het nie, maar daai spinasie met die baber en al is nie in my keelgat af nie. Trane sit vlak in my oë en ek probeer braaf die jerked vleisie met die vurk steek, sjoefs daar trek hy oor die tafel. Ek vang hom soos 'n geoefende en sit hom terug ini bord. Ek kyk rond, die ander eet die jerkies met hulle hande, oë nog op my, ek dog, nou gaat jy nerens heen nie en slaan my tanne en vingers om die stukkie vleis, nope, jou tanne moet geoefen wees vir die sessie, ek sit maar weer die vleisie mooitjies langs die hel rysies neer.

 

Nou kyk daai blokkies goed met die sous lyk sag en ek steek so staaadig saggies, net vir ingeval hulle ook spring, met die vurk na hulle. Hey hey, dis sag en ek vat 'n happie so van 'n hoekie. Ummmm ok, kan hulle kou en die smaak lui iewers 'n klokkie maar ek's honger en ek vat nog 'n happie. Dottie leun so oor na my kant toe en vra in gebroke engels, you know what this is? Nee skud ek my kop nog kouende. Wat vra ek bo die lawaai van die musiek en praatsiek moer met die mike uit. It's cow skin! O my pok, nou is dit nie meer snaaks nie, in my maag is die brand van die pepper soup en die eggo van die hel se rys en nou die rubber sagte beesvel . . . ek staar voor my uit, ek dink. Koolslaai!! Wraggies daar was niks verkeerd met die koolslaai nie. Ek's later die aand huistoe met peper, een skeppie rys 'n happie beesvel en koolslaai in my magie. Ek was nie gou weer honger nie.

 

Nou vandag, amper 2 jaar later eet ek jolof rice, ek skip nog die spinasie en ek eet die jerked vleis, maar net as daar nie nog vel aan is nie, ek kyk mooi. In Wes Afrika slag hulle mos met vuur en brand die hare af en kap dan die vleis in stukke met 'n panga. Die word dan so met die vel en al voorberei.

 

Moet nooit weer vra hoekom ek my eie huisvleisies hiernatoe bring nie, hoekom daar nie take aways gekoop word nie  . . .  julle behoort te verstaan . . .

 

Geniet vanaand se kossies, dis spesiaal!

 

Ek het myself nou in 'n sooibrand ingeskryf!

 

Tot volgende keer.

 

Iretha

No comments:

Post a Comment