Translate

Monday 30 September 2013

Die bubble waarin ek leef . . .

Skree die Piet-my-vrou by jou?


Hier by ons is nie Piet-my-vroutjies nie en iewers in my kop skree daai voëltjie sy gat af, en ek wonder hoekom 'hoor' ek hom vanmore? Het die reën daar by julle begin val?

Hier by ons anderkantste huisie is daar 'n piekeloogie wat elke more as ek bad in die venster kom sit en tjierie tjierie, hoe skryf ek nou sy geluid? dan fluit ek terug en dan raas hy weer en so gesels ons oor en weer. Hy pik pik dan aan die gaas skerm voor die venster, daar is al gate in. Danie sê, maak oop die venster, maar my vriendjie gaan sy gai af skrik as hy dalk invlieg en nie weer sy pad uit kry nie. Ek wil hom nie so traumatiseer nie, nou gesels ons maar so deur die venster. Ek sit vrugte uit maar hulle eet dit nie, die miere betrek dit en dan is dit 'n groot gemors. 



Dalk het hulle geleer as daar pasella kos is word hulle gevang en nou los hulle die pasella kossies liewers uit. Hierdie nasie eet mos als, van rot tot vlermuis, dan seker die voëls ook. Noem dit bush meat, maar ek het al menige male gevra watse vleis dit dan nou is maar hulle ken nie die goed wat hulle opvreet se name nie, als wat beweeg in die bos en op 4 pote loop of kan vlieg is bush meat, hy moet geëet word. geen wonder daar is niks meer oor nie. Baie bos en niks om die bos terug te vreet nie, nie brande nie niks nie, dis ondeurdringbaar vir gewone outjies soos ek en jy.

Aan die begin toe ons hier gekom het, was hier niks voëltjies in die bome nie, net vlêrmuise in die aande, nou is hier al baie en ek sien greeld snaakse suikerbekkies tussen die blomme, selfs duiwe en nou die aand uile. Nag voëltjies wat skerp sqeeck soos 'n droë skarnier aan 'n ou tuinhekkie wat oop en toe en oop en toe geswaai word.

Op Shiela se dak woon katte, wilder as die wildtuin, kom ook nie af vir kos nie. Eet seker die rotte. En tot ons ontsteltenis moes ons hoor dat 'n 'rabbit' die blaarslaai in die tuin gevreet het maar hulle het hom gif gegee, aitog, was seker die laaste 'rabbit' gewees.


Die nasies so diep in ons Afrika, ons deel hulle plek met hulle, ons ondersteun hulle besighede, ons dra by tot die gemeenskap maar rerig deel wees sal ons seker nooit wees nie, ons velletjies is hopeloos te bleek en ons hare te reguit.

Ons vertel en leer hulle van beter dinge, van diere wat ook moet leef en deel is van die hele eco systeem, maar dit sink nie lekker in nie. Dalk een dag . . . dalk leef ek in 'n droom wêreld. Hoekom sal hy een dier los om te leef net sodat die ander ou hom more kan kook, dan vat hy hom mos maar liewer vir homself, bose kringloop wat nie sal stop nie.

Ek droom maar liewer van beter dae want as ons almal negatiewe energie uitstraal sal dit aangetrek word, so ek droom van 'n posetiewe mooi en gesindheid, eendag sal dit dalk werk. . .

Daar is nou voëltjies om die huis en daar is nette oor my groente tuin, ek droom nie net nie dalk is daai Piet-my-vrou nie net in my kop nie, dalk is daar dalk paar van hulle hier . . .

Groete van die anderkant.

(Hoor jy nog die voëls?)

Sunday 29 September 2013

UNLESS . . .




Ek sit ek kyk tv terwyl my man sit en werk en ek kyk na The Lorex van Dr Seuss, en toe die fliek klaar is staan die stukkie in die prentjie hier bo op die skerm geskryf  . . . en ek gryp my Ipad en ek google dit en besluit om dit vir julle te wys. Dit gaan nie net oor die bome in die storie nie, dit raak alle aspekte van die lewe. 
Die verskil begin by ons, help nie jy sit en toekyk nie, net een om om te gee, net een stappie in die regte rigting . . . 

Maak mens dink ne? 





Kom ons wees die verskil, kom ons wees die UNLESS in die wereld. 

Ewenaargroete 


Friday 27 September 2013

To my dear friend

My dear friend,

When did you let the darkness consume you? When did you slip away? Why did you let your eye glide away from the light? I look at you and all I see is the cloud of pity and self and bitterness surrounding you. 

Your focus point now . . . revenge.

Revenge is a dark pit and consuming your energy, making you lonely. 

A bad idee turned into a habit, nou you can't turn back . . . not unless you want to. 

Carma is a bitch and you invoked it. 

My advice to you: 

Turn back to the past.

Start at the biginning, forgive the one who cannot speak anymore . . . 

and the one who took it away . . .

Then the one who took your smile . . .

Then the one who broke your hart . . .

Then say sorry and mean it, to the people you hurt with words and thoughts . . . 

Only then you will be able to see the light again. 

Stay focused on your path to the end. 

Your life will turn around and once more be filled with friends and love. 

I miss the old you . . .

Your friend from the other side. 




Thursday 26 September 2013

As my woorde min word . . .

Soms is dit nie nodig om veel te se nie . . . 



Ewenaar groete . . . 

Tuesday 24 September 2013

Saadjie tussen die rotse

Ek sit en kyk vir die mis bedekte koppie hier oorkant ons, dit reen al 2 dae lekker deurdringend. Als is groen gras groen soos dit net hier kan wees. My hare kroes van die nattigheid in die lug en ek los hulle net so, wat help dit nou om myself te frustreer. 

Ek lees my boek en ek kry hierdie lus vir iets skep en ek gaan krap in my speelkamer, hier is so baie wat ek kan doen, maak, skep, my hande juk, en toe onthou ek, ek het lanklaas geskryf en ek dog ek gaan bietjie skryf, ek vat 'n skoon boek en ek skryf goed daarin, goed wat ek al gelees het en hier in my kop kom vasskop het. Ek skryf weer my storie neer, die een in my kop waaroor ek so fantaseer, die een oor die vrou aan die bos se rand, sy woon daar by die see, sy dra die mooiste vloeiende rokke en loop kaalvoet. Sy maak tuin en pluk kruie in die woud . .  Klokkies klingel aan haar enkels . . . 

Nee ek is nie mal nie ek's eintlik heel ok.

Later krap ek op facebook en ek sien 'n foto en die sit my weer in 'n ander rigting in aan die dink. Ek 'leen die foto vir julle' en ek 'leen' hom vir myself. Hoop nie ek kom in die moeilikheid nie. 


Lank lank gelede in 'n plek nie so ver van waar julle woon nie, in 'n dorre Namakwaland, het die wind of 'n dier hierdie saadjie hier 'geplant'. Die saadjie het gekies om te groei met die val van die volgende reen. Tussen rotswande, te sterk om te skuif, te swaar om te verander, hy het nie gekies om te vrek nie, hy het gekies om te groei en hier tussen die rotswande vir hom 'n plekkie te skep waar hy met die brood nodigste kan oorleef. Dou in die nag en reen wanneer dit reen was voldoende. Toe hy jonk was en die son bitter warm op die rots waarin hy groei geskroei het het hy net sterker geword, sy wortels dieper en sterker die wand ingestuur en homself gevestig waar baie nie sou oorleef nie. 

Vandag laat dit my so baie aan die lewe dink . . . ons kla en sukkel so graag, ons gee op in die lewe en ons wil nie aangaan as ons nie die nodige liefde en omstandighede kry wat ons soek nie. Maar as jy jou attitude bietjie verander gaan jy ook jou wortels dieper laat groei en tevrede wees met jou plekkie tussen die klippe. En kyk nou weer na die foto, kyk daai mooi blom! Kyk sy sterk wortels!

Skop vas maters blom waar jy is. Moenie verlep en verdor en later vrek na die soek na ideale omstandighede nie, jy is waar jy nou moet wees. Steek jou kop uit, al is die reenval laag, die son ongenaakbaar in die somer en die bitter koue van die winters onuithoubaar en die sandjies vir jou wortels min, groei en blom, en kyk na die asemrowende resultaat!!

Maak 'n wilsbesluit, jy hang nie af van wat jy uit ander kry nie. Jy hang van jou af. 

Ewenaar denke en groete 



Friday 20 September 2013

Lekker dag ini Lagos

Dis Vrydag, die verkeer is erger as wat julle kan imagine! Maar ons is nie bang nie en ons slaan die strate na 'n lekker koppie koffie. 

Ons gaan draai daar by Bar Beach, en sien hoe hulle die see droog le om nog te bou! Dis interrissant.

Eers die kuns gallery by die Eko Hotel, whaau, scary stuff. Wens ek kom fotos neem! Die kunstenaar reken sy is 'n alien, en ja, dis scary stuff. Snaakse kopdoeke goete sonner gesigte, spookagtig, en dan die demon agtige engele, verslete klere aan en yakkie. Seker baie goeie kuns maar ek het sommer die creeps gekry. 

Ons soek aand drag vir Mariaan en ons stop by 'n paar plekkies wat soos in max 10 stukkies klere oppie rak het maar dit werk nie. Soms verdwyn sy agter 'n gordyn vir pas sonder sukses. Dan ry ons weer en stop en explore. Die geluk draai en ons ontdek hierdie wonderlike winkel, ek se julle, boutique se alie, dis beter. Sy klim in die aanpas kamer en ek pass aan ;-) 

Ons lag lekker maar kry baie nice goed. Hulle het tot my nommers! 

Ons is daar uit met baie mooi uitrustings teen 'n baie billike prys. Whaau! Ek adverteer vandag. 

Die diens was puik en mense vriendelik en behulpsaam, het nie geskroom om die poppe uit te trek sodat Mariaan kan aanpas nie. 


Na lekker shop en rondloop is ek uiteindelik weer by die hotel en moet nou nou weer regmaak vir vannaand se uitgaan. Dit hou nooit op in die plek nie . . . 

Mojito prentjie kom maak hom tuis in my kop ;-) 

More weer huistoe, Ilesa toe . . . rustig . . . Lagos sien my eers weer volgende maand, dis nou genoeg vir 'n rukkie. 

Naweek groete mensies, mwah. 

Thursday 19 September 2013

Dink oor hoe jy dink . . .


Positive thinking?

Onder 'n dakkie voor die restaurant in Lagos, maak ek my vanmore tuis, koffie with mielk, Italien frittata oppad, genarator raas dat my ore wapper. Maar ek is rustig. Dis bedompig.




Good mornin Ma, how was your trip? How was your night? Hope you enjoy your stay. Elkeen wie verbykom se groet. You are welcome. 

Ek sukkel om die klam bruin suiker uit die pakkie te kry, dis taai.

Vanmore gaan ek saam met Mariaan nuwe plekke verken. Ek sal julle later vertel hoe dit gegaan het. 

Gisteraand was ons 'n paar Suidafrikaners bymekaar, ons het lekker geklets en wyn gedrink. 

Ek noem so terloops dat ek groot veranderinge in Lagos opmerk en dat dit skooner is, een van ons mede Suidafrikaners, African dame, vryf my liefderyk oor my rug en se vir my, My dear, this is pure positive thinking, you conception of clean are a bit confused, it is still the same, you just got used to it! Ons almal lag dat ons le. Dalk is sy reg. Hulle se almal hulle ruik nie meer vir Lagos nie, ek doen nog. Veral vanmore, dis soos ou drein, daar waar die kombuis se vetterige water uitloop. Ken jy daai reuk? 

Mens kan aanpas, enige omstandighede, enige plek, as jy wil. Ek wil. So positive thinking bring my ver, ek dink nie ek is deurmekaar of confused nie, dis 'n keuse en ja dalk is dit pure positive thinking wat my bring waar ek is, julle kan self besluit. 

Ons is aan die kus, by die see, en as jy dit nie weet nie, en jouself nie herinner nie, sal jy dit skoon vergeet. Ek sien en voel dit aan my hare. Nataniel se storie oor tjoinggg daar spring nog 'n krul kom by my op . . . 

Nou ja, so met die generator se lawaai, groet ek julle met 'n misconception of clean, ek gaan nou nou mooi kyk as ons ry, ek is seker ek is reg. 

Ewenaar groete.

Iretha


Tuesday 17 September 2013

Afrika en sy vreemde gewoondtes en bygelowe . . .

Ek het hierdie skokkende inligting bekom en bietjie gaan op lees daaroor. 

In die vroee jare het die mense in Nigeria geglo dat as 'n vrou geboorte gee aan 'n tweeling dit boos is. Soos in evil. Of die ma het 'n ongelooflike erge sonde gepleeg of die pa is 'n boose gees. So die kindertjies is dan in die woud gaan los om deur die miere of deur 'n luiperd opgevreet te word. Hulle het ook geglo dat een van die kinders 'n monster sou wees. 

Toe in die jare 1876 kom 'n sendeling vrou, Mary Lessor, die suide van die land aan in Calabar, sy het Livingston, toe al dood, as rol model gehad. Sy was ingelig oor heksery en baie bygelowe in die land. Sy het kom leer van die kinders wat so deur die mense in die bos gelos is om dood te gaan en ook dat as 'n oumens dood gaan, hulle vroue vermoor het om hom te versorg in die hiernamaals. Sy het die Woord versprei en die tweelinge begin red. Sy was 'n vurige rooikop en het gou die mense se vertroue gewen en is aanvaar deur die mense. Volgens woord het sy honderde kinders so gered. En die doodmaak van tweelinge gestop, of so is daar gedink. Sy is in 1915 dood op die ouderdom van 66 aan die koors (malaria). In haar lewe het sy ook die gebruik van gif drink gestop. Daar was geglo dat as jy van iets beskuldig is en jy is onskuldig sal die gif jou nie doodmaak nie, klink vir my almal wie die gif gedrink het was skuldig, want almal is dood! 

Toe ek nou verder lees sien ek dat die ding nogsteeds voortgaan in die buitewyke van Abudja waar mense woon wie weier om die westerse dinge aan te neem. Hulle woon in die bos en maak soos honderde jare gelede en dra selfs nog die klere van daai jare. Daar word nie daaroor gepraat nie en dis 'n baie stil onderwerp. 

Volgens opnames in 1991 is 9% van vrouens nog gekant tee tweelinge en glo dat dit die gode is wie hulle straf vir sondes wat hulle gepleeg het, dat die kinders van die duiwelnis en non-human. Sulke vrouens word dan ook deur die man se famielie uitgedryf maar nie vermoor nie. 

Dit sal intensiewe ingryping en oortuiging vat om hierdie mense van hulle wreede kultuur te laat afsien. 

As jy so daarna kyk en lees besef jy skielik dat als en almal nie na vooruitgang streef nie. Sommige is maar tevrede met die gewoontes en gelowe van honderde jare gelede, om ons ontwikkel die land en die mense, in die laaste 2 jaar kan jy die vooruitgang met die blote oog sien maar ons besef nooit was onderlings aangaan nie, dit bly wild in die harte en koppe van sommiges. Dis hartseer aan die een kant en aan die ander kant dink jy, dis tradiesie, dis ingebore, dis in die gene, hoe kry jy dit uit? 

Hoeveel Mary Lessors is nodig om daai verskil te maak? 

Dis nie die enigste wit vrou wie ooit haar hart in hierdie wilde ongerepte land met sy reenwoude kom verloor het en haar hier gevestig het nie. Gaan lees bietjie oor Susan Wenger wie die jaar nadat Mary Lessor dood is ook na die land toe gekom het. Susan was hier in ons staat, Osun, 'n kunstenaar tussen die Yoruba mense, en het haar lewe gewei aan die Osun Godess sederd die dag dat sy haar voete in Osogbo gesit het. Vreemd ne? Sy is 'n paar jaar gelede dood op die ouderdom van 94! Sy is nooit terug Australie toe, waar sy vandaan gekom het nie. 

Die land toor my ook, ek het vrede hier, maar ek sal nie so betrokke word dat ek my mense en my lewe daarvoor sal prysgee nie, maar ek verstaan bietjie, klein bietjie oor die mense wie kom en nie weer wil gaan nie. Hier in ons dorp loop so 'n ou Duitse Tannie rond, sy en haar man was jare gelede hier en na sy dood was sy alleen, geen kind of kraai nie en toe kom woon sy hier . . . soos in nou, vandag die hede . . . 

Groete van die kant van die ewenaar af.



Monday 16 September 2013

My maand, jou maand, ons maand . . .

September is 'n maand vol verwagtinge, eerstens dis lente, die winter is verby, nuwe groen toppies steek kop uit in die natuur en blommetjies begin smile vir die son en ons voel almal sommer beter. Ek kyk vanoggend na die weer op TV, en ek sien dis sommer 'n lekker 30 grade in Johannesburg vandag. Ek sit hel ver van daar af maar ek dink ek kan die Yesterday-Today-and-Tomorrow en Jasmyn se geure in die lug ruik.

September is ook my maand, Danie se maand en ons maand :-)

Ons verjaar al2 en dis ons huweliksherdenkings maand, ons is baie in die gesin wie September verjaar maar ek wil vandag oor ons 2 skryf.

21 Jaar terug het ek weer so 'n uiterse slegte winter gehad, my eertydse man het mos die gewoondte gehad om rond te kyk en toe kyk hy homself in 'n baby in rond, so toe die winter begin is ek so eensaam eensaam deur 'n egskeiding en met baie seer en teleurstelling geteister maar op 'n middag in Julie toe stap ek mos daar by my suster se plekkie in en gaan sit agter die toonbank met my teetjies en daar kom staan die man mos nou met my en small talk maak, en ek like nie mans nie, nie op die stadium nie, en ek wil niks met die ou te doen hê nie, maar hy hou nie op nie, en nodeloos om te se, na 2 en 'n half jaar is ons toe getroud, op die 9de September 1994.

Hierdie storie kan soos 'n boek word maar ek gaan hom kort probeer hou. Deur sy aanhou en uithou en terug kom elke keer as ek hom verjaag het, sy uiterse deursettingsvermoë, het hy so my hart gewen. Dit was geen sprokie nie, ons het sommer so met die begin al opdraende in ons lewens saam gehad maar ons het gestick soos iets in 'n wolkombers. Immers het ek vir 'n goeie man gevra, ek het hom net nie erken toe hy voor my kom staan het nie . . .

Nou, 19 jaar down the line van huweliks lewe saam, kopstamp was deel daarvan, kinders grootmaak was nie elke dag maklik nie, myne en syne so om die beurt, ek is nie 'n engeltjie nie, kan nie vir hom maklik wees om so saam my en my moods en my grille te lewe nie, so is hy ook nie altyd die ou lammetjie wat mense dink hy is nie, ons is nie perfek nie, maar ons is deur ons liefde gebind, ons vergewe maklik, praat sommer gou 'n ding uit, en ons dra nie verwyte rond nie. Ons grou ook nie ou koeie uit die sloot uit nie. Ons ondersteun mekaar, glo in mekaar. Hy sê elke dag hy's lief vir my, en wys elke dag sy liefde vir my en ek doen dieselfde. Dit maak nie 'n man minder man nie ;-)

Nou die dag hoor ek 'n ou sê vir 'n vrou, hulle het oor haar verhouding met haar lewens maat gepraat: "Analyse = Paralyse"!

En ek gaan dit weer sê :
 
Analyse = Paralyse
 
Die is een ding wat ons nie doen nie. Ons sit en analiseer nie mekaar se optrede nie, ons oordink en ontraafel nie mekaar se sinne of dade nie. Ons plaas nie onnodige druk op mekaar nie, ons verwag nie die onmoonlike van mekaar nie, ons deel als, hy is my vriend, my man, my lover en my vertroueling.
Ons sê jammer as ons verkeerd was. Ons gun mekaar spasie.
 
Ek is by die huis, heeldag, ek kla nie, ek doen wat ek wil soos ek wil wanneer ek wil, vir amper 2 jaar lank nou al. Ek verlang ook na my kinders nes hy doen, maar dit was ons besluit saam, om hier te wees, ons verkwalik mekaar nie.
 
Hy werk by die kantoor, travel die land vol en kom moeg huistoe. Ek laat hom toe om te rus, al lê hy net voor die TV, dra sy koffie aan en maak lekker kos, of ek lê saam hom, in sy arm. Al praat ons soms nie, ons is net saam, tevrede en gelukkig.
 
Ek maak die huis huis en 'n plek vir hom om te ontspan en gelukkig te wees. Ek is happy soos 'n vark ini modder.
 
Ek het die man gekry waarvoor ek gevra het, sommer oor nag, maar soms kyk mens mos wyd en sien nie die goud voor jou voete raak nie, dis eers later dat jy besef, ek het gevra en ek het gekry.
 
Daardie jare al was my pad grondpad. Sy koms in my lewe was soos nuwe skoene, ek kon weer makliker stap, hy sê weer ek het hom gered uit die put waarin hy was, so dra ons mekaar en so hou ons mekaar regop. Ons het soms werklik op brood en water geleef maar ons het mekaar gehad, ons het deur finansiële moeilike- en hartseer tye gegaan. Siekbeddens oorleef so saam saam. Ons het gebid vir mekaar en ons doen dit nogsteeds.
 
Niemand weet wat die dag vam more gaan bring nie, maar as dit Sy wil is sal ons nog lank saam wees en mekaar bly aanvul soos nou en ook in die verlede.
 
Ek wil net vandag hierdeur vir hom sê, dankie dat jy nie destyds moed opgegee het nie . . . dankie dat jy my gekies het, want jy moes . . . dankie dat jy lief is vir my kinders.
 
Lief vir jou tot aan die einde van my dae en daarna. Eendag gaan ons weer so maak.
 
Iretha
 
 
 
 
 
 

 






Thursday 12 September 2013

Wat kom eerste in die teekoppie?

Melk of die tee? 

Melk se die wat weet. En as die tee nie sterk genoeg is nie sit jy met 'n koppie wit waterige tee wat jy maar maak of jy like en dit af wurg . . . 

Nou hoekom sal ek dit doen? Ek lig die pot se deksel en ek loer hom so en ek steek die lepel in en werk daai sakkie tot hy reg lyk dan skink ek hom ewe soos 'n pro en drup drup die melk in tot ek hom like en dan sip ek hom slukkie vir slukkie want dis mos hoe ek van my tee hou. 

Ja ek het al hoeveel keer die afgewaterde ding gedoen, en klaar gesluk oor ek maar moes, toe dink ek dis mos maar hoe dit is. En ek hoef mos nou nie. Nou maak ek soos ek wil en ek drink lekker want dis hoe ek daarvan hou. 

En ek draai 'n tee drink ritueel om en ek maak hom 'n lewens les. 

Ek roer dit wat ek kan in die lewe tot ek dit like, die ander moet ek maar sluk. 

Ons kan nie als reg roer nie maar ons kan leer en slim word en aanvaar. As daai eerste koppie waterig was gaan die 2 de lekker sterk wees want daai sakkie was mos nou langer in die warm water. Dit is dieselfde met geduld, as ek bietjie gewag het sou daai eerste koppie nie so waterig gewees het nie. 

Die vrouens van Afrika glo moes hoeka hulle krag is soos 'n tee sakkie, hoe langer jy hom in die warm water los hoe sterker word hy. 

Ek dink by . . . het jy al sterk koue tee probeer drink? Dis frank en bitter. 

Girls, moenie te lank in die warm water bly nie, te veel van daai gaan jou ook bitter maak. Klim uit, vat die vergewe en die geduld en die liefde by die hand en lig jouself daaruit voor jy bitter en donker word. 

Kyk nou wat maak ek nou weer met die tee drink oppi stoep vandag. Ek leer myself van geduld, van ingryp en van bitterheid en vergewe en liefde. Soms kan ons onself die warm water spaar.

Gaan maak jou tee en dink aan my aan die anderkant van die ewenaar. 

Druk maar 'n koekie in as jy wil.

Drink uit die piering ook as jy wil ;-) 

Iretha 

Soms gorrel ek darm behoorlik . . .

Ek sit vanmore hier op die stoep, tee keteltjie langs my, die waaier woep woep woep bo my kop, dis nie warm nie, dis net die humiditeit wat hoog is, ek voel taai, taai van die anderkant die ewenaar lug en taai van die insekweerder wat ek moes spuit, maar ek het vrede in my, om my. My kop loop weer draaie vandag, en ek kies om die volgende goed te skryf, soms vat ek 'n lang draai om te se wat ek wil, want die uiteinde van die storie is nooit eerste in my kop nie, ek skryf van die begin af en dan kom die woorde maar so langs die pad reg. 

So hier is hy. 

Die mensdom darm, sou my ouma gese het, vandag sou sy seker net haar kop geskud het.  Maar vreemde dinge was aan die orde van die dag daai jare, onthou ek oor die stories wat my ma ons altyd vertel het. 

Sy het vertel van ons grooi ouma grooitjie wie die teekoppie so gelees het, sy het dinge gesien voor hulle gebeur het, en sonder om te skroom dit aangekondig. Sit die water op die vuur, sou sy se, daar kom 'n blou kar aan. En dan teen die tyd dat die water kook kom die blou kar op die werf aangery. 

Sy het kleintyd 'n poppie van blare gemaak en 'n slootjie met 'n droe bloekom takkie in die grond gekrap en die blare poppie daarin gesit, haar ma het haar gevra wat sy speel en sy het geantwoord, 'ik bittegawe my kind' en 'n week later is die ma se baba dood en het hulle hom begrawe. Sy het grootgeword en niemand het haar veroordeel nie. Mense het van heinde en verre gekom sodat ouma die teeblare kon lees. Dit was aanvaarbaar. 

Ma het ons ook baie van rerige spoke vertel. Afkop man op 'n perd en spoke by die hospitaal waar sy gewerk het, sy kon hulle sien, niemand het ooit gese, Tannie Kleintjie is weird nie. Baie nagte het ons almal in die huis wakker geword met harde geklop aan die voordeur, daar was niemand, soms aan die kamer venster, daar was niemand. Dan bietjie later was daar weer 'n klop of 'n geroep, of 'n oproep, iemand in die dorp is oorlede of iemand in die familie is nou net weg. Ons het gedink dis normaal, of is dit nie? 

Wat is rerig reg en wat is rerig verkeerd. Hoekom oordeel mense so maklik. Hoekom is ons 'n skape nasie. As dit norm is om sus of so te maak oor die samelewing so se, hoekom is die ander dan die odd ones out? Wie bepaal wat is reg en wat is verkeerd, wat is waar en wat is nie. Wat moet jy nastreef en wat nie. Ons kyk nou die aand mind games op tv. Die selle vrou in 'n wit rokkie kry minder aandag as wanneer sy 'n rooi rokkie dra met presies dieselfde snit. Ons breine word so gekonditioneer dat ons nie meer uit die boks uit kan dink nie. Ons volg die stroom. Ons praat waaroor almal praat, ons dress op in wat aanvaarbaar is, ons doen wat aanvaarbaar is en ons gedra ons soos dit in etiket boeke geskryf word ons moet. Als net vir aanvaarding? 

Is die drang vir aanvaarding groter as die drang vir self ontdekking en self wees?

Wie is jy?

Wat doen jy vir jouself? 

Hoeveel soek hul lewens lank, na 'n rede vir hulle bestaan? 

Hoeveel keer sit jy en luister na ander en voel ek wil self uitvind, ek wil self ontdek ek wil self my mind opmaak? 

Verkeerde kleredrag, gedrag en die uitspreek van wat op jou mind is kan in vandag se lewe vreeslike gevolge he . . . jy kan dalk jou plek in die samelewing verloor omdat jy nie inpas nie of nie aanvaar word nie of nie die trend volg nie, jy kan dalk juis daaroor nie die nuwe job kry nie, hoeveel mense gaan vir 'n onderhoud en probeer so hard om op te tree soos wat van hulle verwag word, net om 'n doel te bereik? 

Hoekom kyk almal teen die uiterlike vas? (Soms ook maar goed hulle kan nie die binneste sien nie.) 

Vra al hierdie vrae vir jouself, jy sal die antwoord kry, luister na jou binneste, wees wie jy wil wees en leef die lewe. Leer en groei deur jou eie ervarings en wees wie jy veronderstel is om te wees. 

Some people travel the world in search of what they need, only to come home to find it. 

Soek in jouself, nie in ander nie. Jy het jou antwoorde, jy het wat jy nodig het binne in jouself. Kyk na binne, hier by jouself, moenie daar ver op die horisonne soek nie. 

Vandag is net een keer, jy kan hom nie more weer kry nie, vandag is die dag, lewe hom, leer deur hom en kry jou eie antwoorde. Ontdek jou selfwees en wees tevrede met wie jy is. Jy is uniek en spesiaal, nes jy is. Die Hand wat jou gemaak het het elke ander met Sy eie uniekheid geskep. 

As jy nou in jou tuin stap en daar is 'n blom wat snaaks oopmaak of verdraaid ontwikkel is, gaan jy jou foon vat en 'n foto neem en vir almal wys en se, kyk die besondere blom in my tuin, jy gaan hom mos nie gou afpluk en op die kompos hoop gooi nie. Nou dis hoe ons onself moet sien, besonders. 

Wees besonders, maak 'n verskil, ook vir daai outjies wie eenkant sit en alleen teetyd hulle tee drink, kyk weer, DIS die skepping van 'n besonderse God. Ons het nie almal perfekte looks en perfekte lewens nie of perfekte idees (volgens wat ander dink) nie, moenie bang wees om jou ken te lig nie, moenie skaam wees vir wie jy is of hoe jy voorkom nie. As jy goed voel oor jouself, basta die res.

Be proud. Walk tall. 

Besonderse dag vir julle! 


Xxxxxxxx 










Wednesday 11 September 2013

Die skaam woorde en skaam onderwerpe

Daar is sekere goed waaroor mens nie skryf nie, of praat nie, kom ons noem dit die skaam goed. 

Daar kom toe so 'n skaam ding oor ons pad . . . 

Kyk as jy ons lewenspad met die nationale paaie moet vergelyk gaan die mooi lyk. 

My man was in April vir sy jaarlikse toetse, als deur middel van bloedjies trek, en op 'n slag so op die lughawe kry hy die oproep van die dokter se spreek kamer af, meneer moet die uroloog gaan sien, die een skaam telling is bietjie hoog. Ons sit op die lughawe en moes toe maar fort sonner om die dokter te sien. Intussen voer ek die man disprins, kruie aftreksels en sommer 'n kursus antibiotika ook. 

Toe dit nou tyd word dat die geleentheid reg is kom ons toe by die uroloog uit. Plaas van tussen 0 en 4 is sy telling 4.42 en die dokter doen 'n sonar en se daars tekens dat daar ontsteking was en hy wil 'n biopsie vat. Die man moet hospitaal toe. Ek dog so by myself, dit was 3 maande gelede, wat van nog 'n bloedtoets, ek het hom mos gedokter. Maar ek hou my bek. Soos skapies slagpale toe en duisende rande later, ons betaal self en eis terug (hopenlik), kom ons toe maar by die hospitaal uit. Ek wil se ek is banger as hy maar die ongespreekte woorde bly ongesproke. 

Die man gaan teater toe en ek wag in die koffie shop. My groot mater kom wag saam met my. Deur my kop gaan baie goed, mens bid maar jy weet dis nie in jou hanne nie. Daar is mos die famielie geskiedenis van die skaam "K" woord. Maar ons gesels oor ditjies en datjies. Ons kom by die kamer aan, hulle het hom nounet ingestoot. Hy lyk nie goed nie. MANNE MOENIE AFGESKRIK WORD NIE, LEES KLAAR. 

Ek spandeer die hele dag by hom, hy moet oorslaap. Hy het seer, kateter en bloed maak my bolip sweet ek voel naar en duiselig. Ek pyn ook oral oor my lyf. Ek het brongitus en ek voel goor. 

More oggend gaan ons Mabalingwe toe en dis my GROOT uitsien van elke jaar, ek moet gaan pak, maar die opwinding verdwyn in my siek man hier voor my.  Ek gaan pak toe maar die aand, weetie of ons sal kan ry nie maar ek pak maar.

Die volgende oggend word ek wakker en hy bel my en se hy word ontslaan en voel beter. Ek gaan haal hom. Ons laai die bakkie en ry. Die uitslae kom volgende Donderdag en ons moet maar wag. 

Ons bly gewoonlik in die bos tot Vrydae maar die keer moet ons vroer draai. Hy verjaar daar in die bos en ons is saam, die kinders was daar, maar ons praat nie oor die ding nie want dis mos 'n skaam topic.

Lang stil pad terug, ek het een keer deur die week vir hom gese ek wou nie eintlik he hy moes gaan vir die biopsie nie, hulle kom mos nog 'n toets gedoen het. Hy se ek moes se, maar ek het nie en dit voel of ek hom onnodig laat pynig het.

Ons pak af en hy stort gou en ons gaan wag by die dokter, tik tik tik maak die horlosie. Dr roep ons in, ek het goeie nuus vir julle, daar is geen kanker teenwoordig nie. Hy se dankie vir die dokter asof hy die hero is, ek weet en ek lees die verligting op sy gesig, ek is ook verlig, dankbaar. Hy skryf pilletjies voor, en na 3 maande moet ons weer bloedtoetse neem. Om en om tol die tol, daar is net een Man wie weet  hoe ons voetsole van klippie pad loop lyk en Hy weet dat hierie sole dun is. Bietjie sawwe poepstoffie pad sal lekker wees dankie. 

Ons bel en BBM en SMS almal wie saam ons gewag het met die goeie nuus en ons se oor en oor dankie. Een spesiale mensie gaan ant tjanke, ek tjank saam, julle hettie nog seer en stress nodig nie se sy, ek wil nie he julle moet nog worries ook he nie, ek wil net he als moet goed gaan vir julle.

Dankie kindta, jy is die mees spesiaalste mens in my lewe neffens so 'n klein anneretejie en die boepie groote. 

NOU VIR DIE MANNE - MOENIE BANG WEES VIR DAAI SKAAM DING NIE, TOETS JOUSELF ELKE JAAR, EK BELOWE JOU DAAR WAS NIE EEN KEER 'n HANDSKOEN BETROKKE NIE. DIE VOORSORG IS BETER AS DIE NASORG. AS JY DINK SOOS EK GEDINK HET, DIS ONNODIG, EK WAS VERKEERD, DIS BETER SO, NOU WEET ONS DIS SKOON EN DIE GEWONDER EN NAGMERRIE GEDAGTES IS IETS VAN DIE VERLEDE.

As ons nie na onself kyk nie, wie sal? 

Onklaar goed

So skryf ek toe en daar verdwyn my skrywe in die bloute in . . . ek probeer weer. 

Die terugtog begin toe en ons klim die vliegmasjien, knop ini keel is deel van dit, want soos julle nou al weet, as ek daar is wil ek hier wees en as ek hier is wil ek daar wees en soms is die vertrek nie so lekker nie, jy voel en ruik nog die klein lyfie in jou gedagtes maar nou is dit maar so. 

Ons styg op en ek beloer die wereld deur die venster. Ek sien ons huis uit die lug uit en die klein karretjie spikkeltjies word al hoe kleiner, ons vlieg so oor die baie bekende wereld en ek se vir Danie, kyk daar is dit en dat, en hy loer loer maar so by my verby. Ons sien die kinders se werklek en ek se ek wens ek kon bel en net se, waai bietjie vir ons.

Later sien ek ons maak so 'n draai naby Hartbeespoortdam en toe oor Botswana en toe ek weer loer dink ek dit kan net die Oshonas van Owamboland wees, ons is nou nou oor my grootword dorp en ek is so naby en tog so ver! 

Die aankoms hier aan die anderkant was redelik pynloos, ons het mos ons eie private protocol officer, hy kom haal ons uit die ry uit en ons is binne minute deur deur doane en als en daar staan ons by die voerband, presies 'n uur later kry ons ons laaste tas, so met die gewag staan hier neffens my 'n ouerige tannetjie. Ons begin gesels, hulle boer teen die Niger rivier, so vier ure verby ons dorp. Hulle is van Zimbabwe vertel sy, ons ruil nommers uit, en sy se julle moet bietjie plaas toe kom. Toe hulle loop soen sy my kaplaks op die mond en gee my 'n laaang druk. Dis maar hoe dit hier is. Ons bleekies klou maar so aan mekaar, immers is ons in die mindere. 

Die drywer wag by die deur, hy moes al 'n half uur gelede die bus gaan haal het. Die car park is ver. Ons wag nog 'n uur, en na nog 'n uur val ons doodmoeg op die spierwit hotelbed neer. Ons bestel kos en wag nog 'n uur en 'n half. Ons het 7 uur geland, 9 uur gery, net voor 10 by die hotel gekom, na 11 kos gekry, dis ons huweliksherdenking, 19 jaar, en ons sit kruisbeen en eet aan varktjops en groente op die bed. Ons pass uit soos dikgevrete hondjies net om deur die wekker wakker geraas te word, dis 5 uur die oggend, dis my verjaardag, ek's moeg en wil nog slaap, Danie hou my styf vas vir nog 'n 5 min snooze en ons staan op, gou stort en dan in die pad val. Koue stort bygese. 

6 uur is ons op die pad, die verkeer is dik, en 10 uur stap ek in my ver huisie in. Gedaan. 

En daar staan ek ini voordeur, en die dink klap my hard. Langs die bank staan my hekelwerk in die mandjie, binne in Lulubaba se half klaar kombersie . . . op die koffie tafel nog die boks tissues . . . Ek onthou die vinnig pak en vlieg die 14 de Julie . . . 

Nou amper 2 maande later is dit 'n steurende ondervinding. Hart klop swaar net soos mens dink dis ligter. Lewens klippe, potholes in die pad, daai soort wat jou rim seermaak en jy kan hom nie rlace nie, sal altyd daar wees. 

Nou, dag 2 by die huis en als is weer mooi op hulle plekke kry ek weer lus vir skryf en kook en naaldwerk. Ek skryf 'n ent weg en die konneksie drop en daar is als weg, ek begin weer, so tussen deur het ek pasteitjies gemaak vir middagete en sommer vannaand ook. Ek het weer al hierdie idees van goedjies wat ek wil skep.  Vrydag is dit weer Lagos toe vir die naweek, bietjie shopping en kuier. Als terug in rat, maar in die werkskamer staan 'n mandjie met onklaar hekelwerk . . . 

Wednesday 4 September 2013

Uit die bos uit

Soos ek belowe het skryf ek hier uit die bos uit, ons hou lekker vakansie en die weer is lekker warm.

Baie dink tyd bestaan nie eintlik nie, ons kuier en gamedrive en braai en slaap te lekker. 

Olifante is skaars, hulle net een keer gesien, renosters is volop en die res is maar die rooibokkies, koedoes, kameelperde en die gewone goete op 'n game lodge. 

Dis vreeslik droog die jaar, in die 8 jaar wat ons hiernatoe kom, en soms was dit net ek, is dit die droogste wat ek dit al ooit gesien het, die damme is byna leeg! Die diere is maer en als is stowwerig. En ek dink by myself, so was ons winter ook, droog en vaal en stowwerig, als wag die reen af, die veld mens en dier, en ek hoop dit gaan sommer gou kom en ons almal se lewens vol groen uitloopsels kom maak.

Ons het afgeskop met ons 14 maande oue kleindogter hier saam met ons en sy het die diere en die voeltjies wat oupa so voer baie geniet. Selfs 'n mak koedoe gevoer. Sondag is hulle huistoe en net ek en oupa het agtergebly.

Die tyd het so gevlieg dat ek dink volgende jaar moet ons vir langer kom, 'n week is te min. 

Ons moet more terug Johannesburg toe vir 'n afspraak en Danie moet kantoor toe Vrydag, dan is dit net tot Maandag dan klim ons weer daai vliegmasjien na die anderkant toe. Ja so op ons huweliksherdenking, sal dit hoog bo ini lug vier! En op my verjaardag kom ek by my ver huis aan, sal maar 'n vuurtjie daar moet gaan maak. 

Dan sal ek weer gereeld op my pos wees en gesels. Gauteng se gejaag en ons bulte wat ons moes oor het my skaars gemaak. Darm het ek my notas om op terug te val, notas maak ek mos maar altyd. Net soms voel ek daar is 'n screen voor my dink . . . lood aan my voete . . . 

My beker loop weer vol, die bos is salf, die natuur my gemeente, die vars lug my drug, die geluide my musiek, ek dans op die maat van die lewe . . . 

Soetwees tot volgende keer. 

Iretha