Translate

Wednesday 11 September 2013

Onklaar goed

So skryf ek toe en daar verdwyn my skrywe in die bloute in . . . ek probeer weer. 

Die terugtog begin toe en ons klim die vliegmasjien, knop ini keel is deel van dit, want soos julle nou al weet, as ek daar is wil ek hier wees en as ek hier is wil ek daar wees en soms is die vertrek nie so lekker nie, jy voel en ruik nog die klein lyfie in jou gedagtes maar nou is dit maar so. 

Ons styg op en ek beloer die wereld deur die venster. Ek sien ons huis uit die lug uit en die klein karretjie spikkeltjies word al hoe kleiner, ons vlieg so oor die baie bekende wereld en ek se vir Danie, kyk daar is dit en dat, en hy loer loer maar so by my verby. Ons sien die kinders se werklek en ek se ek wens ek kon bel en net se, waai bietjie vir ons.

Later sien ek ons maak so 'n draai naby Hartbeespoortdam en toe oor Botswana en toe ek weer loer dink ek dit kan net die Oshonas van Owamboland wees, ons is nou nou oor my grootword dorp en ek is so naby en tog so ver! 

Die aankoms hier aan die anderkant was redelik pynloos, ons het mos ons eie private protocol officer, hy kom haal ons uit die ry uit en ons is binne minute deur deur doane en als en daar staan ons by die voerband, presies 'n uur later kry ons ons laaste tas, so met die gewag staan hier neffens my 'n ouerige tannetjie. Ons begin gesels, hulle boer teen die Niger rivier, so vier ure verby ons dorp. Hulle is van Zimbabwe vertel sy, ons ruil nommers uit, en sy se julle moet bietjie plaas toe kom. Toe hulle loop soen sy my kaplaks op die mond en gee my 'n laaang druk. Dis maar hoe dit hier is. Ons bleekies klou maar so aan mekaar, immers is ons in die mindere. 

Die drywer wag by die deur, hy moes al 'n half uur gelede die bus gaan haal het. Die car park is ver. Ons wag nog 'n uur, en na nog 'n uur val ons doodmoeg op die spierwit hotelbed neer. Ons bestel kos en wag nog 'n uur en 'n half. Ons het 7 uur geland, 9 uur gery, net voor 10 by die hotel gekom, na 11 kos gekry, dis ons huweliksherdenking, 19 jaar, en ons sit kruisbeen en eet aan varktjops en groente op die bed. Ons pass uit soos dikgevrete hondjies net om deur die wekker wakker geraas te word, dis 5 uur die oggend, dis my verjaardag, ek's moeg en wil nog slaap, Danie hou my styf vas vir nog 'n 5 min snooze en ons staan op, gou stort en dan in die pad val. Koue stort bygese. 

6 uur is ons op die pad, die verkeer is dik, en 10 uur stap ek in my ver huisie in. Gedaan. 

En daar staan ek ini voordeur, en die dink klap my hard. Langs die bank staan my hekelwerk in die mandjie, binne in Lulubaba se half klaar kombersie . . . op die koffie tafel nog die boks tissues . . . Ek onthou die vinnig pak en vlieg die 14 de Julie . . . 

Nou amper 2 maande later is dit 'n steurende ondervinding. Hart klop swaar net soos mens dink dis ligter. Lewens klippe, potholes in die pad, daai soort wat jou rim seermaak en jy kan hom nie rlace nie, sal altyd daar wees. 

Nou, dag 2 by die huis en als is weer mooi op hulle plekke kry ek weer lus vir skryf en kook en naaldwerk. Ek skryf 'n ent weg en die konneksie drop en daar is als weg, ek begin weer, so tussen deur het ek pasteitjies gemaak vir middagete en sommer vannaand ook. Ek het weer al hierdie idees van goedjies wat ek wil skep.  Vrydag is dit weer Lagos toe vir die naweek, bietjie shopping en kuier. Als terug in rat, maar in die werkskamer staan 'n mandjie met onklaar hekelwerk . . . 

No comments:

Post a Comment