Translate

Tuesday 24 September 2013

Saadjie tussen die rotse

Ek sit en kyk vir die mis bedekte koppie hier oorkant ons, dit reen al 2 dae lekker deurdringend. Als is groen gras groen soos dit net hier kan wees. My hare kroes van die nattigheid in die lug en ek los hulle net so, wat help dit nou om myself te frustreer. 

Ek lees my boek en ek kry hierdie lus vir iets skep en ek gaan krap in my speelkamer, hier is so baie wat ek kan doen, maak, skep, my hande juk, en toe onthou ek, ek het lanklaas geskryf en ek dog ek gaan bietjie skryf, ek vat 'n skoon boek en ek skryf goed daarin, goed wat ek al gelees het en hier in my kop kom vasskop het. Ek skryf weer my storie neer, die een in my kop waaroor ek so fantaseer, die een oor die vrou aan die bos se rand, sy woon daar by die see, sy dra die mooiste vloeiende rokke en loop kaalvoet. Sy maak tuin en pluk kruie in die woud . .  Klokkies klingel aan haar enkels . . . 

Nee ek is nie mal nie ek's eintlik heel ok.

Later krap ek op facebook en ek sien 'n foto en die sit my weer in 'n ander rigting in aan die dink. Ek 'leen die foto vir julle' en ek 'leen' hom vir myself. Hoop nie ek kom in die moeilikheid nie. 


Lank lank gelede in 'n plek nie so ver van waar julle woon nie, in 'n dorre Namakwaland, het die wind of 'n dier hierdie saadjie hier 'geplant'. Die saadjie het gekies om te groei met die val van die volgende reen. Tussen rotswande, te sterk om te skuif, te swaar om te verander, hy het nie gekies om te vrek nie, hy het gekies om te groei en hier tussen die rotswande vir hom 'n plekkie te skep waar hy met die brood nodigste kan oorleef. Dou in die nag en reen wanneer dit reen was voldoende. Toe hy jonk was en die son bitter warm op die rots waarin hy groei geskroei het het hy net sterker geword, sy wortels dieper en sterker die wand ingestuur en homself gevestig waar baie nie sou oorleef nie. 

Vandag laat dit my so baie aan die lewe dink . . . ons kla en sukkel so graag, ons gee op in die lewe en ons wil nie aangaan as ons nie die nodige liefde en omstandighede kry wat ons soek nie. Maar as jy jou attitude bietjie verander gaan jy ook jou wortels dieper laat groei en tevrede wees met jou plekkie tussen die klippe. En kyk nou weer na die foto, kyk daai mooi blom! Kyk sy sterk wortels!

Skop vas maters blom waar jy is. Moenie verlep en verdor en later vrek na die soek na ideale omstandighede nie, jy is waar jy nou moet wees. Steek jou kop uit, al is die reenval laag, die son ongenaakbaar in die somer en die bitter koue van die winters onuithoubaar en die sandjies vir jou wortels min, groei en blom, en kyk na die asemrowende resultaat!!

Maak 'n wilsbesluit, jy hang nie af van wat jy uit ander kry nie. Jy hang van jou af. 

Ewenaar denke en groete 



No comments:

Post a Comment