Translate

Friday 14 June 2013

Onthou

Ek sit gisteraand hier voor die skermpie en ek is verveeld en ek krap rond op Facebook en julle sal my nou nie glo nie maar ek gaan vertel  . . .

Dit voel toe ewe vir my of ek verskillende lewens gely het, soos reinkarnasie, my lewe kan in sulke sigmente opgedeel word.

  • Toe ek in Namakwaland gebore is, Nababeep, en ons op Hondeklipbaai gebly het was ek 'n regte weskus kind, ek het bedags tussen die bossies agter ons huis gespeel, my poppe gedokter met die soutslaai en stokkies en blaartjies. Die harde bo-lagies wat die dou wat droog geword het op die sand gemaak het opgetel en patroontjies met my vingers daarin getrek . . . Fila sou roep, Baba noi Kleintjie soek jou. Ma moes altyd weet waar speel ek so stil. Toe moet ek mos skool toe, op Garies, Sub A, koshuis toe! Dit was erg, en my juffrou was toe my als. (Ons kom terug na Juffrou toe) Toe 'n jaar en 'n half later trek ons mos Suidwes toe, die oggend toe ons daar uit Hondeklip uit gery het het die moeder aarde die plek vir ons weggesteek onder 'n baie digte misbank, ek kon nie by die venster uitkyk terugkyk en nog 'n laaste onthou inkry nie, dit was die glas en die mis. Soos ons gery het het beelde van mense wie met hoede in die hand waai swaarlik deur die mis sigbaar ons gegroet, Ma het gehuil, pa het keel skoongemaak en ek het sommer oor ek 'n kind was hardop gehuil, want die ander was hartseer.

  • In Suidwes was dit lekker, die nuwe skool was goeterig en die weer was baie warm en daar was baie water, ons kon in die water speel, daar was nie 'n tekort soos in Hondeklip nie. Daai jare in Suidwes het baie geword en dis waar ek getrou het, met die verkeerde man, maar die regte kind gekry het! Sy is my als, ma se kind. Ons het toe mos in Oshakati gaan bly (na die troue) Toe na onafhanklik wording moes ons die land uit want die verkeerde man het mos vir die veiligheids Polisie gewerk en daar was net een pad en dis SA toe. So binne 3 jaar in SA is ek toe 'n geskeide enkel ouer en oorleweing was aan die orde van die dag, maar so van die hand na die mond gelewe.  

  • Ek ontmoet toe die regte man (julle het al die storie gelees) en ons skrop nes so saam en trek Kempton Park toe van Hartbeespoort dam af, daai tyd toe werk ek ook vir die SAP en dit het 20 jaar en 6 maande gevat en baie baie staaltjies en lewenslesse later bedank ek want ons kom bly mos toe in Nigeria. (ek los 'n gap van so 18 jaar in hierdie 4 reëltjies)

So ek dink elke bullet is 'n leeftyd, 'n ander rydperk, 'n ander lewe. Nigeria moet ook 'n bullet hê. Nou om terug te kom by my storie is toe ek nou so op verskillende vlakke sit ek krap op Facebook, toe kom ek af op Garies Kaalvoetkind, en alla kawalla hoe lekker lees ek toe daar ou ou stories wat pa altyd vertel het! En ek dink nee kyk, hier moet ek deel van wees, en ek druk daai knoppie en hulle aanvaar my en ek sê dankie en wie ek is en als en ek onthou nog my Sub A juffrou, Marietha de Klerk, en die volgende oomblik kom hier 'n ding op wat sê: Dus was ek jou juffrou gewees!! Nee mense dis soos waaattt?
Kontak van die ander kant af! Dit was awsome! Ek weet nou nie wie het nog kontak met sy Sub A juffrou na 39 jaar nie, maar ek het en ek weet van nog een ou, (lol sorry Mark) en dis lekker!

Daar is wêrelde se verskil tussen Namakwaland, Die ou Suidwes, Gauteng en Nigeria!! Glo my maar dis waar!

Nou wonder julle seker, nou wat moet ek met die nuttelose inligting maak?

Dit vertel my, jy maak saak, wat jy sê maak saak, wie jy is maak saak, hoe jy lyk maak saak, als maak saak! Wees spesiaal, wees anders, moenie in die stroom onsigbaar word nie, jy is jy en jy is uitsonderlik die mens wie jy geskape is, leef dit uit en laat jou liggie skyn!

Dis so tone vuisies maak lekker! Dankie julle wie deel is van my bestaan, ek lief julle almal stukkend!!

Nou sien julle daai beker oorloop? ;-)

Mwah

Iretha

No comments:

Post a Comment