Translate

Thursday 10 October 2013

Verjaardag ini Hemel . . .

Ma verjaar vandag, die 8 ste Oktober, ma sou vandag 79 gewees het as ma nog by ons was. Ek sien fotos van Tannie Glodina, ma se 2 ling suster op fb en ek kyk en ek kyk en ek verlang na ma. Tannie Glodina lyk nog goed maar ek weet ma kan haar sien. 

Hou julle dagboek van julle aardse verjaardae daar waar ma is? Of herdenk julle die dag wat julle daar aangekom het? Dit maak beter sin vir my. Ma is nou al lank daar . . . 

Ons vergeet nooit van ma nie, ons vertel vir ons kinders van ma en wat ma als vir ons vertel het en geleer het. En as die kleinkinders kan verstaan dan sal hulle dit ook hoor. Ek kook nogsteeds soos ma en as ek my kos proe dan dink ek aan ma. 

Daar by ma is baie mense wie ek so verlang, ouma Blom en Klein Leandri, ons het haar nie geken nie maar is baie lief vir haar, ma en ouma moet asb mooi na haar kyk, en wys vir haar hoe ons haar mis en haar lief het. Ons weet nie wie sy sou wees nie, maar net dat sy so spesiaal was dat sy teruggegaan het na julle toe. Daar is nog baie ander wie ook by julle is, ek hoef nie op te noem nie, hulle weet van ons hartseer. Ek weet ook dat julle nie wil he ons moet hartseer wees nie, maar ons is op die aarde en dis menslik, die verlange en dan die hartseer. Waar ons kan, probeer ons met goeie herinneringe en glimlagte aan julle dink. 

Ek wens nie vir een oomblik my tyd hier korter nie, maar ek weet as die dag aanbreek gaan ons beslis nie trane stort as ons mekaar weer sien nie. 

Ek was baie lank kwaad omdat ma weg is, daar was dan nog so baie om te doen en te se. Ma se agter-agterkleinkinders kan nou net van ons hoor van Ouma Kleintjie, dis dan so onregverdig, maar dan onthou ek, dit was ma se tyd om te gaan. En ek berus. Die spyt oor die verlore tyd sal altyd daar bly. 

Ek het eendag daar onder die wasgoedlyn 'n belofte aan ma gemaak, dat ek mooi na pa sal kyk. Ek is baie ver van hom af, kan nie kyk soos ek moet nie, maar ek probeer my bes. Hy is gelukkig, ek dink. Hy se hy verlang ook nog, al is die tannie daar. Ma het so 'n groot impak op ons lewens gemaak dat dit nooit ooit deur enige iemand anders uitgewis of vervang kan word nie. 

Ek skryf vandag hier vir ma, want ek verlang weer en wil net se, ons vergeet nie, nooit nie. 

Lief vir ma. 

Jou Baba

No comments:

Post a Comment