Translate

Monday 14 October 2013

Hoe weet ons wat vandag en more gaan bring.

Vanmore staan ons op en die dag begin soos gewoonlik maar daar is ander energie in die lug, ons is byna voltallig hier aan die ander kant van die ewenaar, eerste keer vandat ek hier bly, is amper al die vrouens op die selfde tyd hier. Dis vreemd vir my wie meestal alleen hier is, maar ook lekker. 

Ek gaan groet vir buurvrou, en toe gaan drink ek en 2 ander lekker tee daar op Shiela se stoep. Sy is hartseer vandag want sy verlang na haar kinders saam met wie sy met vakansie was, wonder of dit weer 4 jaar gaan vat voor sy hulle weer sien .  . . Inhaal gesels is nog nie klaar nie ons moet nog baie tee drink daarvoor. 

Ek kom huistoe, maak 'n slaaitjie vir ete en kom neem plaas hier voor die rekenaar om eers gou die nuus hier ook op te vang, en daar sien ek dit, en ek lees sommer so 2 keer om seker te maak ek sien reg . . . 

Ons ou skoolvriend en FB mater, Kobus Rens is vanoggend oorlede na nog 'n operasie op sy heup. Hy het lank gesukkel met die heup operasies en baie pyn verduur en die laaste paar maande maar min van hom gehoor, net so hier en daar 'n update van 'n vriendin gekry. Dis regtig slegte nuus, maar hy is nou heel en sonder enige pyn. 

Dis vir my maklik om te verstaan van die pyn en hartseer waardeur sy mense nou gaan . . . ek dink aan hulle en weet van die skok, leemte en vrae in hulle harte. 

Mens weet nooit wanneer so 'n lieflike bloulug dag in 'n somber hartseer ene gaan ontaard nie, ek gryp weer my lewe en tel my seeninge, ek wonder oor die hoekoms en die waaroms, en ek se vir myself, dis ons pad wat ons stap, almal gaan een of andertyd aan, almal van ons ervaar een of ander tyd hartseer, maar kom ons wees bly vir die lesse in die lewe en die bloulugdae sonder klippe in ons harte, die maklike gelukkige dae maak op vir die seer enes. 

As jou dag leeg en grou en swaar van die knop in jou keel is, wees verseker dis daai dae dat ons groei, nie net die ligte dae nie. 

Ek druk die hartseer mensies hier styf teen my hart vas vandag, en ek dra saam aan julle swaartes. 

Ewenaar groete. 

No comments:

Post a Comment