Translate

Wednesday 7 August 2013

Geure

Ek sit in my kombuisie by die antieke tafeltjie met die doilie oor, wat ek jare terug gehekel het, en my neus gevul met Maroccan spices en kaneel patats borrel op die stoof. Ek kook vandag vir die eerste keer in die nuwe klei tangine en ek wonder of dit nou reg ruik. Ek wou lankal een van daai snaakse potte he en loop toe wraggies een raak hier in die dorp vir 'n weggee prys en ek moes hom eers voorberei voor ek hom kon gebruik. Week in water vir 'n uur, droogmaak, olie smeer en bak vir 2 ure en weer was en vandag kon ek hom inlyf. Kleipot allie pad van Marocco af! Ek was nog nie daar nie, dalk eendag. Ek kook graag vreemde goed, Lebanees, Chinees, Indies en dan eet ons dit op die boere manier ;-) 

En ek onthou my ouma se kombuis en die Aga met die groot pot water op die een plaat, die lekker geure wat darm uit daai stoof uit gekom het, ouma het mos als so in die oond gemaak, tot sop. Die boerbeskuit wat ons so in ons blikbekertjies gedoop het . . . my ma se kombuis, die lekker wildsvleis en soet kossies by . . . die vet skaaprip op die vuur as pa saans braai en die roosterkoek met die vyekonfyt soos net ma dit kon kook . . . 

Geure is seker een van die goeters wat die maklikste in ons koppe vassteek, en dan as jy dit weer ruik dan kom die onthou so aangehardloop en los ons met nostalgiese ou herinneringe.

En ek wonder of my vreemde kos in die oond nou dalk iemand in die straat laat onthou . . . Dalk ruik dit vir iemand na huiskos. Vir my is dit nuwe reuke en ek maak nuwe herinneringe, net jammer hier is niemand wie saam kan ruik nie . . .

Ek lees die ander dag dat die dat ek soms my ma hier by my ruik, Moondrops, en daar is nie Moondrops naby my huis nie, soms daai ou pienk Pears spuitgoed, so erg dat die reuk om my bly hang, dat Danie dit ook ruik, is dit nou sy wie dan kom kuier het? Hulle se die mense wie aanbeweeg het kom soms om ons te troos of om net naby ons te wees, en ek glo dit, ek voel dit en soms sien ek hulle. Toemaar dis nie scary nie. En blykbaar is dit die maklikste vir hulle om deur bekende reuke ons te laat weet hulle is hier. Op die oomblik dink ek dat as ek eendag moet terugkom met 'n geur dit seker maar deurmekaar gaan ruik soos ek op die oomblik nuwe geure skep, lol. 

En so van reuke gepraat, nou verlang ek na die lekker ruik in my lief se menswees, my neus in sy nek, ek ek steel altyd sulke diep teue van sy manwees en naskeermiddel en ek weet ek wil dit altyd ruik!  En ek verlang so tussen die kook en skryf deur, wens hy kon kom aansit vannaand. 

Maar die ewenaar skei ons weer vir 'n rukkie en dan gaan ek weer saam na my anderkant huis toe. 

Weetie wat ek alles vandag probeer se nie, seker maar dat ek verlang, verlang alweer na goeters ver weg van my af, goeters en dinge wat weer baie travel gaan vat om te ruik en sommiges wat ek nie maklik weer sal ruik nie. 

En ek vat so 'n ou slukkie uit my armans pieringkie uit, ek mag nie kla nie, ek se maar net . . . 

Maak maar daai neusgate vol lekker ruik en soet herinneringe, die lewe is 'n warboel en hoe weet ons hoeveel kanse ons nog het? 

Hoop julle eet ook vannaand met al julle sintuie . . . 

Liefde 

Iretha 



No comments:

Post a Comment