Translate

Monday 12 August 2013

As in die herd

Dae kom en dae gaan, die vuur bly brand laag, nie soos nat houd wat rook nie, net laag, die as is vaal en daar diep onder gloei 'n kooltjie flou.

Fyn houtjies sal die kenners se, en later dikker stukke en dan 'n lekker droe stomp om 'n goeie vuur te maak, dalk nog 'n fire lighter, maar dis nou as jy 'n regte vuur in 'n kaggel of 'n braai of sommer enige plek maak waar mens maar vuur maak, vuur maak is mos vir warm word of gaarmaak of watter rede ook al, soms sommer vir die ambiance . . . 

Dan kort ek hierdie vuur om te kom warm maak en om te kom lig maak in my lewe, maar daai vuur willie lekker brand nie . . .  

Ek soek en ek soek, wat kan ek gebruik om my vuurtjie se vlamme lekkend en vrolik te kry? Om die donkerte te verdryf en die koue uit te dryf om die lekker weer alledaags te maak en die bekertjie weer vol te kry? 

Blaasbalk wat die smede gebruik sal werk, blaas suurstof tussen die vlamme in, dalk kort ek suurstof, dalk moet ek daar by die gym inval en tussen die vreemdes gaan sweet . . . Kopskoonmaak, lyf en spiere met vinnige suurstofryke bloed spoel? Sal dit die vuur weer lewe gee? Kan seker maar net probeer. 

Hiers mos nie meer veilige plek om sommer net voet te slaan in 'n rigting in nie, daars nerens plek hier waar ek sommer net in die natuur kan gaan sit en staar nie, sonder om gesteur te word nie, nie eens in die agterplaas nie. Ook nie eens plek om te gaan sit en 'n vuurtjie te maak sonder dat die brandweer of  skorrie morries my sal pla nie, wat het van ons wereld geword? Die mens maak mooi en bou en berei uit, maar wat is beter as die ongerepte natuur? Waar is daar nog 'n plekkie waar jy net alleen kan rigting inslaan en alleen saam met die skepping wees nie? Om daai vuur suurstof te gee nie? Sonder om te voel daar is grense wat jou keer, sonder dat jy weet jy gaan teen 'n draad vasloop nie. Daar is oral grense en drade en sigbare en onsigbare lyne. Elke ou wil sy gedeelte afkamp en aan homself toe eien, en dan is daar daai donker figure wie jou teiken en pla net oor die duiwel alleen weet hoekom. 

Gauteng en sy oneindige blokkies erwe strepe paaie en sement miershope en spikkel stukkies onveilige bos tussenin, spikkels is plastieksakke en bottels en papiere van iemand se vergete inkopies of carry bag. Stukkies bierbottels en ou blikke gestrooi waar blomme en kleur moes wees. Strepe paaie wat se stop en ry, skapies, draai hier en nie daar nie, so vinnig of so stadig alles beheer deur 'n simpel reel en hand, daai hand spring sommer ini pad en beheer jou verder, nee, die lig is groen maar nou stop jy eers bietjie want ek se so. Kassie oppi rak in die huis se vir jou, nou kyk ons dit nou kyk ons dat want dis wat nou op is, met ander woorde tot jou gedagtegang word bepaal. . . 

Ek skryf met die kassie af, ek moet gaan vertroosting soek in my eie kop, op my eie manier op my eie blokkie erfie in 'n stukkie van die baksteen woning waar ek beperk is tot die klein spikkeltjie op die heelal waar ek saans my kop neerle, ek moet uit, ek moet wyer dink ek moet die klappe afhaal. Die vuur versmoor . . . Daars nie 'n trek nie, jy kannie 'n vlam in 'n toe blik maak brand nie. 

Ek kan amper soos die yuppies se, as jy verstaan druk jou hooter! 

Ek druk my neus in 'n boek en ontsnap so maar dan lui die foon of iemand klop aan die deur en eis hulle stukkie van die tyd, tyd wat so mildelik of so skaars kan wees, als beheer deur die geharwar van die beton woud en tegnologie. Gelukkig ontsnap ek soms deur die tegnologie, soos nou. 

Doen iets vandag net vir jouself net omdat jy soos 'n wafferse rebel jou stukkie tyd in die beton oerwoud vir jouself wil vat en moenie dat enige iets jou paar minute vir jouself steel nie, sit maar daai foon af, trek die deur toe of wat ook al, maar maak tyd vir jouself, of saam met jou mense, net vir rebellie se saak. 

Stuur 'n briesie oor daai as vuurtjie.

Iretha 




No comments:

Post a Comment