Translate

Tuesday 3 December 2013

Woorde druk om uit te kom

Hier sit ek weer aan die anderkant ek kan bars van woorde om te skryf.

Ek was nou langer as 'n maand by die huis. Dit was so lekker om elke dag my ou kinnertjie te sien en die ou kleinkinnertjie, ek ruik hulle nog. My hart maak sulke dips as ek aan julle dink. Maar ek is gelukkig, so met verlange en al, at least is ek by my man. Darm nie alleen nie. 
Ek het byna al my maters gesien, saam gekuier en gelag. Ek was by al die winkels waar ek kon en ek was by die Soulspace Festival, ek en my sus, ons het dit so geniet. Doen gereeld goedjies saam, vir daai inhaal slag. So het ons oral probeer inhaal vir die verlore tye. En ek wens weer ek kon almal tog net hier he om te wys, dis waar ons bly, dis wat ons doen en dis hoe dit lyk, ek wil dit so graag met julle deel, fotos vertel nie die hele verhaal nie, sodat julle ook kan verstaan. 

Oral waar ek gekom het, het ek komplimente gekry oor my blog, ek het nooit besef hoeveel van julle dit lees nie, dankie daarvoor, so bly ek kan soms 'n grin op julle gesiggies sit. Julle is die rede hoekom ek dit doen en aanhou doen, al raak ek soms 'weg', sorry maar ek rus soms, skakel sommer net af, of geniet net die stilte. Of soms is daar nie stilte nie dan sukkel ek mos maar om te skryf.

Ek het so 'n uur geslaap en met 'n helse kopseer opgestaan, seker die whiplash van die pad. Dit was rof, 5 ure lank met so 'n halfuur se stop tussenin. 

Nou wil ek skryf en die kop klop maar as die skryf praat is geen kopseer te erg nie.

Die tv werk nie, ons moet kies die skottel skuif of die durian boom afkap, raai wat gaan gebeur? Die skotttel word geskuif. Nou luister ek maar musiek en dis sulke goue oues . . . Crying in the rain, Una paloma Blanca en Knock Three Times . . .
En ek voel weer die gevoelens los kom en ek voel weer die anderkant hier in my binneste, dis nie slegte gevoelens nie, dis so 'n mengsel van vrede en verlange.

Die huis ruik nie reg nie en ek spuit my lekker ruik goed oral maar dit werk nie, sal eers more weer beter wees. (Intussen het ek uitgevind dat die reuk van die fumigation af kom, hulle gbruik nog DDT hier. So hou maar duim vas ons oorleef dit ;-))

Op die oomblik is ek weer die enigste vrou hier, dis stil, dis lekker. More pak ek weer elke vertrek reg en kry weer my doen dingetjies in orde. 

Vanmiddag toe ek uitpak dink ek weer by myself, hier is so baie goed, die kaste en laaie is vol, ek moet bietjie minder maak, so dis dan nou die joppie vir die nuwe week. En ek gooi so moeilik weg. Aitog. Sal maar liewer weggee en nie weggooi nie. 

Toe ons by die huis kom, hardloop een van die drywers agter die bussie aan, arms waai en tanne blink in die son, en Femi staan met 'n smile wat van oor tot oor strek, hulle laai als in 'n omesientjie af. Eerste dinge eerste, how is the family? En toe moes ek die groot komkommer uit die tuin uit sien, julle moet hom sien, ek sal 'n foto neem, en toe groente tuin toe, die trots van my steward Femi. Hy wys vir my sy nuwe foon wat hy gekoop het en is tog te bly om sy 'ma' weer by die huis te he. Hy reken ek was te lank weg. Hoe sal hy nou verstaan van die ander lewe wat ons in 'n vreemde Suid-Afrika het, vir hom klink als soos 'n paradys. Hy se hy het gehoor by die ander wie al daar was. 


Hier is die komkommer, die gekoopte ene steek lelik af.

Nou gaan ek eers in my ver huisie speel.

Ewenaar groete.

Iretha

No comments:

Post a Comment