Translate

Tuesday 17 December 2013

My Ma

Vandag is dit die herdenking van my ma se dood. Van my ma se weggaan.

Ek onthou nog pa se oproep jare terug, "Ma is nou net weg" het hy gesê, ek het gevra, hoe bedoel pa dan nou? Waarheen sal sy dan gaan, sy was baie huisvas. Toe klap dit my, kyk, en so 'n onverwagse on tydige boodsakp kan 'n kind hard klap. Ek het nie toe gehuil nie, die huil het later gekom. Ek het op en af geloop en gewag vir die voel maar die voel het my sprakeloos gelos. Danie het toe met pa gepraat, ons was die middag by skoonma en skoonpa toe die oproep gekom het.
Dit was soos 'n skoot deur my binneste. Ek het nog nie baie daaroor gepraat nie. Dit was te erg.
Toe kom die gereel en gepak en die trip Suidwes toe. Ons het in Botswana oorgeslaap en tot in Tsumeb gery die volgende dag.
Dit was deurmekaar, of sal ek se ek was deurmekaar, ma het net herstel van die borskanker en toe kom die hartaanval en sy is weg.
'n Ma wie ons gedink het gaan altyd daar wees is toe weg.
Ma het nog met my gepraat, so hier in my kop, nou nog soms, hoor en voel en ruik ek haar. Ons moes haar gaan begrawe.
Die dag van die begrafnis het ons na haar gaan kyk, dit het nie soos sy gelyk nie, die siel was weg, net die dop was oor, soos sy altyd vir ons vertel het wat gebeur as iemand dood gaan. Dit was so.
Ek onthou my ma as die Tannie Kleintjie wie altyd daar was vir almal. My ma se hande het vir niks teruggestaan nie. Almal was lief vir haar en sy het altyd raad gegee.

Vandag toe ek daar voor my spieël staan en ek kyk vir myself, sien ek baie van my ma wat vir my terug kyk. Dis scary.

Ek wil nie die gewone huldeblyk skryf nie ek wil net sê, ek mis my ma. As jy nog 'n ma het, bel haar, gaan kuier, drink tee of wat ook al julle ding is wat julle lekker saam doen. Leer meer van haar af, kry haar resepte, luister na haar stories van lank gelede en maak herinneringe saam met haar. Laat jou kinders haar geniet sodat hulle altyd kan sê, my ouma het dit so gedoen, of my ouma het so vertel, of my ouma het my dit geleer. Dis wat jou dra as sy sommer so weg is. Haar herinneringe in jou binneste.

En ek dink, as ons sou weet die tyd is naby, sou ons meer saam gedoen het, sou ons meer gepraat het?

Ma het geweet. Sy het die laaste keer voor haar dood toe hulle by ons gekuier het, daar buite onder die wasgoedlyn vir my gesê, 'Ma kom mos nou nie weer kuier nie' en ek wou nie luister nie, ek wou dit nie glo nie. Sy het my ook laat belowe, so tussen die wasgoed ophang deur, dat ek tog sal toesien dat my pa nie verwaarloos nie. Sy klere moet altyd netjies wees. Nou hoe doen ek dit oor 6000km ver?

Vir nou is dit al wat ek gaan skryf.

Ma ons mis ma, maar weet ma is nie heel weg nie, ma is nog hier by ons in ons herinneringe.

Ma se jongste.

Iretha









No comments:

Post a Comment