Translate

Tuesday 7 April 2015

Kraan is toe . . .

Nou ja, ek sit hier en ek noem myself baie dinge, onder andere naief, want ek vertrou mos almal.

Hier is die storie:

Ek loop ewe rustig in Pick n Pay en hier kom 'n jong meisie na my toe met 'n pak doeke en 'n blik melk. Ja, die storie, sy het 'n baba en nie geld nie en die is by haar ma en die kry ook swaar en julle weet wat kos baba melk en doeke. En ek sê vir haar, hoekom borsvoed jy nie, nee, maar die kind wil nie aan haar drink nie. Ek vra haar uit, waar bly jy? In Birchleigh, skryf ewe vir my haar naam, adres en nommer neer. En ek sê ek gaan kom kyk sy sê dis reg tannie. En ek sê vir haar ek sal die melk koop sy moet buite wag. Ek kom by die kar waar sy wag. Ek gee die melk en sy vra of sy die slip kan kry want sy moet by die hof al die geld wat sy op die kind uitgee wys. Die outjie wie haar swanger gemaak het se ouers wil die kind vat. Ek gee toe maar die slippie. Ek sê vir haar, as jy vandag vir my lieg meisie, gaan jy dit voel. Sy sê, dis reg tannie ek lieg nie. Ek dink by myself, ek gaan kyk waar ek kan help, al moet ek almal vra vir bydaes. Ek voel goed.

Toe kliek iets in my kop. Ek skryf die registrasie nommer van die kar neer en ry na die adres toe. Ja, reggeraai. Verkeerde adres, maar ek is 'n ou kalant. Ek vind uit aan wie die kar behoort en ek ry na daai huis toe.

Ja sê die bediende, dis Natan se kar die meneer se seun, en die Chantelle is sy girlfriend en hulle is op drugs, vele male in rehab gewees. Nee, die kind is nie 6 maande oud nie. En sy wys so om en by 3 - 4 jaar oud. Vertel my ewe waar Chantelle bly, nie ver van die verkeerde adres af nie. Ek ry en gaan kyk, maar die Wit Opel Corsa staan nie daar nie.

Ek bel toe die pa en vertel hom die storie, sê ek soek nie die geld nie, wil net hê hy moet weet. Arme
man, ek sit daar in die bakkie en ek huil. Huil vir hom en vir sy kleinkind.

Sorry, ek het vandag my neus in ander se sake gesteek, ek is misbruik, sy gaan die melk by die volgende winkel teruggee en die geld vat. Ek is lekker deur my ore geskroef!

Maar girl, ek het vir jou gesê as jy vandag vir my lieg gaan jy dit voel. Jy gaan dit voel. Daai oupa en ouma gaan daai pragtige kind vat en mooi grootmaak, jy gaan hopenlik jou lewe regruk, ek bid vir dit.

Maar van vandag af gaan ek nie weer help nie, ek is nou een van daai mense wie net dood eenvoudig gaan nee sê. Jammer vir die wie regtig hulp nodig het. Ek sal self besluit as iemand hulp nodig het en help. As jy vra is die antwoord nee.

Dis sad, so so sad. Maar dis nou maar hoe dit is, en hoe dit sal wees.

Hierdie uitgestrekte hand is nou gebyt, hy bly nou maar aan my sy.

Kemptonparkers, wees op julle hoede, ek is seker ek is nie die eerste wie vandag of gister of dalk more deur haar gevang gaan word nie.

Groetnis.


No comments:

Post a Comment