Translate

Monday 5 May 2014

Vandag se quilting . .

Ek is omring deur boeke, paiere, notas en post-it's en gekleurde penne, ek lees hier "copy en paste" daar en probeer eenvormigheid bring aan dit wat ek "my boek" noem, die skerm is nie meer genoeg nie, ek moet dit nou in my hande vashou en die ware Jakob sien. Toe hol ek uit papier uit en nou skryf ek maar bietjie vir julle wat ek sien en ervaar.

Dis 'n laslappie mengelmoes wat kwilt moet raak, skuif hier pas daar en die aanmekaar sit met die grootste sorg is die ergste konsentrasie. As als bymekaar kan kom en ek daai deurstik werk gedoen het en niks dit meer uitmekaar kan torring nie en ek weet dis vol sagte stopsel vir snoesig lees en die binneste warm maak dan sal ek ook so aanmekaar en in een stuk wees. 'n Kunswerk.

Ek sit en ek lees goed wat ek al vergeet ek geskryf het, ek sien planne wat ek gemaak het maar wat anders uitgewerk het, groot hartsere wat ek nie kan vergeet nie, ek sien ek het op tone getrap, jammer daaroor. Ek sien heelword en ek sien groei, my eie groei en groei in my werk. Dis die 'amazingste' van als.

Dan lees ek die woorde wat ek opgemaak het om my prentjies kleur en smaak te gee en ek weet dis ek daai, ek weet dit sal verstaan word.

Hier binne my is 'n groot bons ding in my bors, ek het 'n kompliment gekry, kom ek sê ek het nog 'n kompliment gekry . . . een van my gunsteling skrywers en inspirasie, sy het vir my geskryf :

"Iretha jy skryf so mooi, dat ek ampertjies getjank het. Jy weet, ek dink altyd aan girls soos jy wanneer ek skep en die heerlike verantwoordelikheid om hierdie topgehalte dames te mag bederf met my net-my-allerbeste-mooiste. Watch my hierdie jaar!x "Net goedheid en guns..."" Whaau!

Dankie Elize, jy is 'n ikoon in my bestaan en dan is jy nie spaarsamig met jou komplimente nie, jy weet nie hoe jy my aanspoor nie!

So met hierdie lekker nuwe stukkie parafien lap op my vuur skarrel ek voort om ook iets uniek van die top gehalte, vir unieke mense voor te lê . . .

As ek weer stil raak, weet dis net die vingers wat stil is op die keyboard, nooit die kop nie.

PS

As daar iets uit die verlede aan jou gat kom hap, onthou dis die mense wie nie oor hulle onsekerheid kan kom nie en aan strooi halms gryp om jou in hulle put van selfbejammering af te trek . . . moenie slaap daaroor verloor nie.

Sommer iets wat ek eendag neergeskryf het toe iemand iets nasty opdiep en in my rigting gooi wat ek nie eens meer kan onthou ek gedoen het nie, jare terug al.

Tog bly ons almal maar net mense . . . en in my gedagtes vat ek daai klippie en ek gooi hom in 'n stroom en ek weet hy is nou weg saam met die ander klippies wat ek hier in my binneste saamgedra het en weggegooi het, die stroompie sal hulle wegrol en vernuwe en slyp sodat ek hulle nooit weer sal erken as ek hulle eendag weer moet optel nie.

Hou julle mooi klippies diep in julle harte en spoel hulle af met helder skoon watertjies sodat hulle weer kan blink en lekkerte in julle dag kan bring.

Gatskop dag vir julle.

Iretha







No comments:

Post a Comment