Ons word mos toe uitgenooi na 'n troue toe, eg tradisioneel
Nigerian.
Eers kom die uitnodiging, pragtig in lemmetjie groen en
pienk.
Toe kom die materiaal, ja materiaal. Al die brouery se mense
gaan klere van hul eie styl maar dieselfde materiaal dra sodat ons seker geien
kan word.
Toe kom die tailor! Uit iets wat soos 'n koerant lyk kies
ons snitte en style vir die attire vir die groot dag. Head gear en al. Danie
kry so 'n doibie dingetjie en ek blykbaar 'n gili. (gielie uitgespreek)
Als goed en wel, die tailors is hier weg met die lap en so
vergeet mens mos maar van die gedoente. Een middag kry ek die oproep van die
tailors wie wil kom fit. Ek sê toe maar, maar dis reg, en hulle kom met
tannekaste op display hier in.
Vir my het die top en romp goed gepas, geline en als, dem
netjies moet ek se as jy na nie naaiwerk kyk, vir Danie so 'n tipiese top en
broek, naby pajamas, en toe kom die head gear! Kyk ek piepie soos ek lag, daar
ontaard my man in 'n kabouter of 'n ding, ek lag nog so lekker toe plak hulle
daai gili op my kop en ek voel die ding se gewig en hulle klap hande en ons
pose voor die spieël. Als pas mooi en hulle is hier weg.
Nou word daar oor en weer fotos geneem en gebbm en die bure
kom oor om die affêre te bekyk en net daar en dan hoor ons maar hulle is ook
genooi en moet ook sulke klere kry! Nog 'n tailor sessie en ons almal is trotse
eienaars van lemmetjie groen en pienk pakkies.
So breek die dag van die troue aan, ons almal steek kop by
die deure uit en lyk of ons afstamelinge van dieselfde kabouter familie is.
Maar nou ja gewapen met kameras sit ons toe af kerk toe.
By die kerk aangekom is daar hordes fotograwe en ons smile
en pose ewe gedwee, net om paar minute later agter te kom ons moet nou daai
fotos by hulle koop, nie lank nie en ons het almal fotos op ons skote in die
kerk. Die fotos word sommer daar by die kerk geprint en net daar in die kerk
aan ons verkoop. Dis 'n babelse lawaai en verwarring maar ons word geissue met
boekies wat die hele diens en seremonie woord vir woord in engels en die local
dialek weergee.
Die musiek begin en ek wip soos ek skrik, die mense moes
doof gebore gewees het want dit blêr behoorlik. Die kerk loop vol en die ding
begin, nou probeer jy maar die affêre so met die boekie volg, en dan Amen hulle
en die jong girl langs my pomp my in die ribbes en beduie ek moet amen en so
half opvlieg en buig. Maar ek is elke keer so bietjie agter die tyd. Buurvrou
wil haar gat af giggel en die gili wil nie meer mooi sit nie, dis warm en die
sweet wat so gedweë onder die hare uitloop maak die ding rek en ek sit amper
die hele tyd met my hand op my kop.
Volgende oomblik nog 'n pomp ini ribbes en 'n handjie wat
wys kom, shit, wat nou? Al die vrouens dans in die rondte om die banke en so beland
ek al (soos Danie dit stel) Madiba shuffelend in die kerk af, dis toe 'n
gekollekteerdery!! Voor in die kerk staan 2 groot kollekte sakke, nes die
kleintjies wat ons by die deure gebruik, maar net so 'n rapsie groter as 'n
asblik!! Ons het net 1000 Nira note by ons en gooi maar in. Terug gejive jive
sitplek toe en die bruid arriveer, die rok was so wit sy was pik swart, of sy
is so pikswart die rok lyk spierwit! Nou is dit 'n affêre, die gevolg gedress
is pienk muskiet skoene (muskiete is die local 'ladies of the night' wat seker dag en
nag werk want hulle is orals waar jy kom, so dink bietjie, muskiete steek mos,
hiehiehie) en lemmetjie groen rokke!
Die serimonie begin en dis nie gou oor nie,
dis 'n lang storie, en die paartjie gaan sit uiteindelik op hulle stoele voor
in die kerk. Daar is 'n moerse remoer en klink of iemand nou uitgekak word! Ek
rek my nek, vang die gili en plak hom terug op my kop, voor die paartjie staan
al die tannies en wys met die vingers en die een wil harder skree as die ander,
ware uitkak sessie! Ek dog by myself, wat het hulle nou verkeerd gedoen. Die
girl langs my sien my verwarring en beduie 'they are naming their children' !!
So preek die pastoor verder en dan begin die danspassies
weer en ons word weer beduie om te kom, nog 'n 1000 nira, eintlik 2000 want ons
is mos 2, die kore sing, daar was 2, een aan elke kant van die kerk en hulle
sing teen mekaar, nou begin ek dink ek is ook doof en my gai is vierkantig
gesit, my boude is seer en ek wil nommer
een.
Ek wink vir buurvrou met die kop en ons slip by die deur
uit. Buite staan nog amper net soveel mense as binne, ewe gesellig en kuier.
Ons spot so 'n ouerige vrou en vra waar kan ons toilet toe gaan. Die beduie met
so 'n liggie ini ogies om die kerk, en ons om die kerk, en daars net sulke
kamers, lyk of hulle daar bly, vra weer vir 'n piepie plek en 'n ander een wie
beter verstaan beduie tussendeur die karre en daar staan nie toilet! 'n Boom!!
Nou sê ek vir buurvrou, my wit agterstewe gaan nie mooi vertoon as ek hierdie
giggel groen rokkie oor my kop trek nie, ek knyp maar. So is ons vol blasies en
al terug in die kerk in. En daar suffle ons alweer! Nog 2000 naira in die sakke
in, dan skud skud hulle dit so bietjie en beduie nog 'n keer. Nou raak ons
steeks. Genoeg is darm nou genoeg. Toe hulle sien dit werk nie stuur hulle die
bruidspaar met groot knie skottels soos ouma s'n om die laaste sente uit die
mense uit te ryg. En dit gaan aan en aan en aan, sing en suffle en bid. Die
klomp praat sommer op hulle selfone in die kerk want niemand word gepla nie
want jy hoor anyway net die lawaai.
Drie (3) ure later, met 'n nou totale dooie gat en leë
beursie en blaas wat so vol is ek sweer ek hoor hom squeak, loop ons uit die
kerk uit. Behoede my!! Fotosessie saam met die bruidspaar!
Kyk nou loop ek krom, treetjie vir treetjie kar toe, ons ry
almal saam met buurman en besluit op stuk ons gaan eers by die huis verligting
soek en iets drink en dan weer onthaal toe.
So gesê so gedaan. By die onthaal aangekom word ons plekke
aangewys, die musiek blêr en iemand met 'n mike ini hand en raas onverstaanbaar
voort, al die groen kabouters sit saam. Bier, koeldrank, water, sap,wyn en
whiskey word voor ons op die tafel gepak. Die kos kom, klaar opgeskep. Jaaaa,
jy het reggeraai, Nigerian cuisine!
Jolof rice, rooies en geles, jerked beef met skin, moi moi
en koolslaai. Lepels word uitgedeel. Nou ek eet mos nou al die jolof rice maar
as jy dit met die geel rys meng is dit eetbaar, waai die vlieë, vleis . . . oe
ehe . . . nie vandag nie! Koolslaai ja! En nou sal jy my nie glo nie, moi moi
is lekker, lekker soos purity se groente kos met 'n stuk hoender in die middel.
Moi moi word van boontjies gemaak wat gekook, gemaal en dan om die hoender
gepak word en in 'n sakkie gestoom word. Tradisioneel kom dit toegedraai in
piesang blare. Ja, ek proe nogsteeds aan als, nog nie my les geleer nie maar
die groein-wintertyd-snot- kar-tou sous sal ek nie try nie.
Die bruidspaar kom aan en word met geld gegooi, nog geld! Skielik
onthou ek weer waar ons bly, hulle scheme jou sommer so oop oë uit jou geld
uit. Onthou ek het nooit gesê ons het vir die lappe betaal nie, nou het ons al.
Die bruidspaar sit in 'n tentjie in die middel van die party
en word sporadies deur almal besoek. Teen die tyd was ons fodde, die koek word gensy,
kinders harloop rond en die man met die verbal diarea gaan mal met die mike. Danie
en buurman begin die whiskey en sap meng en ek sê vir buurvrou, as ons nie nou
huis kry nie gaan die 2 die party begin geniet en wie weet, nou nou dans ek
weer noodgedwonge saam met die klomp, of sakkie sakkie op Alakia se musiek. Met groot oortuiging en slim beloftes en
sweet wat in die oë loop groet ons en verlaat die onthaal! 7 ure later en
pootuit.
Done it, got the clothes, nie gou weer nie.
Kyk dis seker maar die dinge wat mens moet doen om die
experience te kan beleef, maar hel die Afrika experience is nie vir sissies
nie.
Die fotos wat ons hier neem is getoor, die plek lyk goor
maar om die een of ander rede kom dit altyd so uit dat dit eintlik heel
kleurvol lyk.
Wens ons was in Star Trek se tyd sondat ek julle kon op
'beam' sodat julle ook die ervaringe kan beleef.
Even in al hierdie geroemoes loop die bekertjie oor!
I love Africa! True as jannas.
Iretha
No comments:
Post a Comment